Groot uitdagings vir Brittanje se nuwe premier

Theresa May. Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Theresa May. Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Theresa May sal Woensdag by Downingstraat 10, die premier se ampswoning in Londen, intrek.

May (59) sal Dinsdag oor die samestelling van haar kabinet besluit terwyl David Cameron, die huidige premier, sy finale kabinetsvergadering bywoon voordat hy koningin Elizabeth II sal besoek om amptelik te bedank. May is tans minister van binnelandse sake.

Cameron het te kenne gegee hy gaan bedank nadat Brittanje in ʼn referendum besluit het om die Europese Unie (EU) te verlaat. May sal dus moet toesig hou oor die ingewikkelde proses om die EU te verlaat.

In Brittanje is die fokus of George Osborne, minister van finansies, sy pos gaan behou. Waarnemers meen May sal hom moontlik behou te midde van die pond ʼn krisis beleef en vrese oor die land se ekonomie.

Ander waarnemers meen weer dié sleutelposisie moet aan iemand toegeken word wat ten gunste was van die referendum om die EU te verlaat. May was nie ten gunste hiervan nie, maar het beloof om prominente figure, wat wel ten gunste van die besluit was, sleutelposte in haar kabinet aan te bied.

May het ook onderneem om ʼn Brexit-minister aan te stel om onderhandelinge met die EU te hanteer. Sy word reeds deur die oorblywende 27 EU-lidlande gedruk om artikel 50 van die EU se grondwet te volg. Dié artikel begin ’n twee jaar lange proses om uit die EU te tree.

Sy is ook deur opposisiepartye versoek om die verkiesing, wat vir 2020 beplan is, te vervroeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.