Groot uittog van verpleegsters uit Zim

(Argieffoto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

Virginia Mutsamwira behandel vier keer meer pasiënte as wat sy ideaal gesproke onder haar sorg behoort te hê by ʼn township-kliniek in Harare, die hoofstad van Zimbabwe.

“Dit is uitputtend – die verpleegster-pasiënt-verhouding is regtig sleg,” sê sy. “Dit is frustrerend, want jy kan nie gehaltesorg bied nie.”

Dié 52-jarige senior verpleegster is goed opgelei en uiters ervare en tog dek haar maandelikse salaris van sowat $200 (R3 250) skaars haar basiese behoeftes.

Om haar gesin van agt aan die lewe te hou, bedryf Mutsamwira ook ʼn klein kruidenierswinkel vanuit haar huis waar sy ook hoenders en hase grootmaak om te verkoop. En ná werk, nog voor sy haar verpleegstersuniform kan uittrek, gaan voer sy eers die hoenders.

Mutsamwira is een van talle gesondheidswerkers wat beplan om Zimbabwe te verlaat – in haar geval om haar “aftrede te verseker”.

Amptelike syfers wys daarop dat Zimbabwe verlede jaar reeds byna 1 800 verpleegsters aan hoofsaaklik Engeland verloor het. Dit is meer as 10% van alle verpleegsters wat in staatshospitale in die land werk.

Die uittog stroop die reeds sukkelende Zimbabwe van broodnodige vaardighede.

Mutsamwira het reeds haar internasionale Engelse taaltoets gedoen wat nodig is om ʼn werksvisum na Brittanje – waar salarisse sowat 10 keer hoër is as in Zimbabwe – te bekom.

“Ons is altyd oorweldig omdat baie verpleegsters weggaan,” sê Josephine Marare (33), wat by een van die land se grootste staatshospitale, Sally Mugabe- Sentrale Hospitaal, werk.

Fasiliteite wat nie die nodige toerusting het nie, vererger boonop die moreel van verpleegpersoneel.

“Stel jou voor om in ʼn hospitaal te werk waar daar geen verbande, geen water of geen basiese medisyne soos pynstillers is nie,” sê sy.

“Ek is net so gefrustreerd en as ek geld kry om ʼn visum te bekostig, sal ek by die ander aansluit wat die land verlaat.”

Die grootskaalse migrasie het boonop die vraag na paspoorte aangespoor, met mense wat al van voor sonsopkoms toustaan om aansoek te doen om reisdokumente uit Harare.

‘Asof jy die lotery wen’

Jason Mutambara, ʼn 45-jarige Zimbabwiese pa van vier, het verlede jaar na Brittanje geëmigreer. Hy sê hy is nie spyt oor sy besluit nie, want sy maandelikse inkomste het skielik tot $3 375 (byna R55 000) die hoogte ingeskiet. Die verhoging maak dit vir hom moontlik om sy kinders se skoolgeld sommer maklik te betaal.

“Dit is asof jy die lotery gewen het,” sê dié pa.

“Jy kan nie eens daaraan dink om sommer gou terug te keer Zimbabwe toe nie.”

Zimbabwe se gesondheidsfasiliteite verbrokkel al vir langer as ʼn dekade terwyl die ekonomie aan flarde lê.

“Die belangrikste dryfveer vir verpleegsters is die vergoeding,” sê Simbarashe Tafirenyika, president van die Zimbabwiese stedelike en landelike verpleegwerkersvakbond.

“Hulle moet skoolgeld betaal en kos op die tafel sit, so as iemand ʼn geleentheid kry, dan vat hulle dit.”

Verpleegsters in dié land is dikwels so desperaat dat hoogs gekwalifiseerde en ervare personeel selfs vir junior poste in die buiteland aansoek doen. Selfs hierdie poste is meer lonend as dit wat hulle tans in hul geboorteland verdien.

Die Gesondheidsdiensraad, wat staatsgesondheidswerkers gradeer en aanstel, erken die massa-uittog van verpleegsters het reeds ʼn uitwerking op kapasiteit gehad.

Ingevolge ʼn program wat daarop gemik is om personeelgapings te vul, word afgetrede verpleegkundiges heraangestel terwyl opleiding uitgebrei word.

“Om ervare werkers te verloor is altyd ʼn uitdaging,” sê Livingstone Mashange, woordvoerder van die raad.

Brittanje het ʼn jare lange gebruik om personeel van ontwikkelende lande te werf om aan die behoeftes van sy eie gesondheidsdiens te voorsien. Tekorte aan verpleegsters in Brittanje het egter sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie erg toegeneem, terwyl talle verpleegsters weens die land se uittrede uit die Europese Unie vanuit Oos-Europa gewerf is.

Volgens ʼn verslag wat verlede jaar deur ʼn groep kenners by die Gesondheidstigting uitgereik is, het ʼn tekort van 93 000 werkers Brittanje se Nasionale Gesondheidsdiens (NHS) in die gesig gestaar. Sowat 42% hiervan was verpleegsters.

Ondanks die massa-uittog uit Zimbabwe, hoop Mutambara dat die Zimbabwiese owerhede die gesondheidstelsel sal regruk om enige verdere verlies van vaardighede te stuit.

“Ons is in Zimbabwe opgelei en ons is dit aan die mense daar verskuldig om aan te hou werk vir hulle,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nicky ·

Ek glo nie ons staathospitale is beter nie, Dit kom daarvan as jy mense met kennis wegjaag net soos hier.

Grens ·

Maar ek verstaan nou nie, hulle het dan nou al die grond, dit moet mos nou voor die wind met hulle gaan?

Vonkprop ·

Hoekom is daar agt in die gesin as jy skaars kop bo water kan hou?

E ·

Is die ander 7 gestremd? Hoekom moet sy die diere versorg as die inkomste vir almal gebruik word? Hoenders voer is nie ‘n spesialis werk nie. In SA is dit die plaas kinders se werk.

Anel ·

Dieselfde gaan hier gebeur as hulle die NGS gaan implementeer!!!

Windhond ·

Hierdie land gaan hard met moeder aarde kennis maak as NGS ingestel word, dan is dit goodbye Maraai

JL ·

Wys bietjie vir die wat so graag dreig met staking hier by ons wat ‘n verpleegkundige in ons buurland verdien. Om nie te praat van die wat gelukkig is om ‘n betrekking te hê nie.

Pablo ·

Het nie eens geweet daar is nog verpleegsters nie. Moet maar tasse pak en vlug.

Clifford ·

Zimbabwe was in 1980 waar Suid Afrika was in 1994.

Onafhanklikheid verkry van ‘n blanke minderheid wat die land regeer het. Hier vlug almal na Britanje wat deur ‘n blanke meerderheid regeer word ? En dit word gesien as “die loto wen”.

Suid Afrika gaan dalk nie hierdie punt bereid in 42 jaar nie, maar met 28 jaar al onder die knie is ons sterk oppad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.