Grootste dwelmvonds nóg in Europa gemaak

Van die kokaïen wat by die Hamburg-grenspos gevind is (Foto: AFP / HAMBURG CUSTOMS INVESTIGATION OFFICE)

’n 28-jarige man wat moontlik met ’n reusevonds van kokaïen verbind word, is Dinsdag in Nederland in hegtenis geneem. Dit volg nadat Duitse doeanebeamptes sowat twee weke gelede op meer as 16 ton kokaïen by die Hamburg-grenspos beslag gelê het. Dit word as die grootste dwelmvonds in Europa bestempel.

Volgens die doeanebeamptes was die kokaïen in houers versteek. Die houers is uit Paraguay ingevoer.

“Die enorme hoeveelheid kokaïen het ’n geskatte straatwaarde van ’n paar miljard euro,” het die doeanebeamptes in ’n verklaring gesê.

Intussen is daar ook by die grenspos in Rotterdam in Nederland altesaam 1,5 ton heroïen met ’n geskatte straatwaarde van R794,17 miljoen gevind. Dié dwelms was in ’n skeepsvraghouer vol Himalaja-sout versteek. Die houer is uit Pakistan ingevoer. Vyf mans is vroeër vandeesmaand in verband met hierdie beslaglegging in hegtenis geneem.

Volgens die Nederlandse aanklaer is hierdie beslaglegging van heroïen die grootste in Nederland tot dusver.

Drie van die vyf verdagtes wat vasgetrek is, is steeds in aanhouding terwyl die oorblywende twee vrygelaat is. Hulle word egter steeds as verdagtes beskou.

Volgens die polisie is die dwelms reeds vernietig.

Rotterdam se massiewe grenspos, die grootste in Europa, is ’n belangrike toegangspunt vir kokaïen en heroïen in die vasteland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.