Grootste geslypte swart diamant te sien

Die Enigma, ʼn swart diamant van 555,55 karaat (17 Januarie 2022) (Foto: Giuseppe Cacace/AFP)

Die wêreld se grootste geslypte swart diamant is Maandag vir die eerste keer te sien voor dit te koop aangebied sal word. Die diamant sal na verwagting ongeveer $5 miljoen (R77 miljoen) haal.

Die Enigma, die naam van die seldsame swart diamant, is op uitstalling in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate. Die diamant is vermoedelik geskep toe ʼn meteoriet of ʼn asteroïede die Aarde getref het, aldus Sophie Stevens, juweliersware-spesialis by Sotheby’s-afslaers.

Die diamant van 555,55 karaat, een van die moeilikste stowwe om te sny, is nog nooit publiek vertoon nie. ʼn Onbekende eienaar is al 20 jaar lank in besit daarvan. Kenners het dit in ʼn juweel omskep met 55 kante. Die vorm is geïnspireer deur die Midde-Oosterse palmblaar-simbool van mag en beskerming, die Hamsa, wat ook met die getal vyf verbind word.

“Dit is baie uniek,” het Stevens van die juweel gesê wat oor ʼn Guinness-wêreldrekord beskik as die wêreld se grootste geslypte diamant.

Ná die uitstalling in Dubai sal die Enigma ook na Los Angeles en Londen geneem word voor ʼn aanlyn veiling van sewe dae op 3 Februarie begin.

Volgens Stevens sal die “kosmiese wonder” waarskynlik aan ʼn bitcoin-bieër verkoop word. “Ons aanvaar kripto-geld vir die diamant, soos wat ons met ander belangrike stene gemaak het.”

Die Key 10138-diamant is verlede jaar in Hongkong vir $12,3 miljoen (R189 miljoen) verkoop. Dit is met kripto-geld betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Ek dink die eerste sin van die berig behoort te s^e: “Die wereld se grootste ^swart^ diamant……

FM ·

jou kommentaar is korrek, Pieter.

daar is groter diamante maar hierdie is die grootste swart diamant.

voorwaar indrukwekkend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.