Gruwelfliek onttroon Spidey by loket

Neve Campbell, Courteney Cox en David Arquette in April 2011 by die première van ‘Scream 4’ by die Grauman’s Chinese-teater in Hollywood, Kalifornië. Dié trio is nou, 11 jaar later, weer saam te sien in die nuwe weergawe van ‘Scream’, wat pas uitgereik is. (Foto: Kevin Winter/Getty Images North America/AFP)

Scream, die jongste uitreiking deur New Paramount, het die naweek Spider-Man: No way home by die Noord-Amerikaanse loket onttroon nadat dié aksiefliek die afgelope paar weke die gewildste rolprent onder fliekgangers was.

As gevolg van ʼn openbare vakansiedag (Martin Luther King Jr.-dag) was dit ʼn vier dae lange naweek in Noord-Amerika. Die jongste fliek in die immergewilde Scream-franchise het $30,6 miljoen (sowat R472 miljoen) oor dié tydperk ingeoes. Dit is goeie nuus vir die rolprentbedryf wat weens die Covid-19-pandemie gesteier het.

Volgens David A. Gross van Franchise Entertainment Research was dit ʼn sterk openingsnaweek vir die gruwelfliek, selfs al kan Scream se openingsinkomste nie kers vashou by dié van Halloween 12 nie, wat in Oktober verlede jaar met ʼn bedrag van $49,4 miljoen (sowat R765 miljoen) geopen het.

Neve Campbell, David Arquette en Courteney Cox, wat in 1996 in die oorspronklike Scream-fliek verskyn het, is ook in die nuwe rolprent te sien.

Sony se Spider-Man: No way home is nou in die tweede plek, met ʼn gesonde inkomste van $20,8 miljoen (sowat R320 miljoen) gedurende die naweek. Die fliek het nou in die VSA altesaam $704 miljoen (sowat R11 miljard) en internasionaal $926 miljoen (sowat R15 miljard) ingebring.

Sing 2, met die stemme van Reese Witherspoon, Scarlett Johansson, Matthew McConaughey, Bobby Cannavale, Pharrell Williams en Bono, is in die derde plek met ʼn inkomste van $10 miljoen (sowat R153 miljoen).

Die vierde plek gaan aan die spioenriller The 355, wat $2,3 miljoen (sowat R38 miljoen) ingeoes het. Jessica Chastain, Penelope Cruz en Lupita Nyong’o is in dié fliek te sien.

The Kings Man is in die vyfde plek, ook met ʼn inkomste van $2,3 miljoen (sowat R38 miljoen). Ralph Fiennes, Gemma Arterton, Rhys Ifans en Matthew Goode is in dié aksie-komediefliek te sien.

Die res van die toptien‑flieks die afgelope naweek was:

Belle met ʼn inkomste van $2 miljoen (sowat R31 miljoen)

American Underdog met ʼn inkomste van $1,9 miljoen (sowat R29 miljoen)

West Side Story met ʼn inkomste van $1,2 miljoen (sowat R18 miljoen)

The Matrix: Resurrections met ʼn inkomste van $1 miljoen (sowat R15 miljoen)

Licorice Pizza met ʼn inkomste van $950 000 (sowat R14 miljoen).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.