Gure weer verwoes kakao-oeste; pryse skiet hoogte in

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Sia KAMBOU / AFP)

Kakaopryse het die afgelope jaar die hoogte ingeskiet nadat gure weer oeste in Ghana en die Ivoorkus – die wêreld se twee grootste kakoprodusente – vernietig het.

Kakao word hoofsaaklik in die vervaardiging van sjokolade gebruik en die prys daarvan het die afgelope ruk byna daagliks rekords laat spat.

“Ek het in 20 jaar nog nooit só ʼn oes gesien nie … Die reën het ons oeste bederf,” sê Siaka Sylla, president van ʼn handelskoöperasie van 1 500 boere in Divo in die suide van die Ivoorkus.

Kakaopryse het sedert die begin van 2023 meer as verdubbel.

Dalende produksie was egter ʼn groot katalisator vir die prysontploffing oor die afgelope 12 maande.

Volgens plaaslike boere was verlede Julie besonder nat in die suide van die Ivoorkus, net toe plante geblom het. ʼn Toenemende aantal boere in Wes-Afrika het egter weens die swaar reën plantsiektes aangemeld wat die verspreiding van swartpeulsiekte bevoordeel het. Dié siekte maak peule swart en vrot.

Die Ivoriaanse reguleerder, die Coffee-Cocoa Council, het gevolglik die verkoop van uitvoerkontrakte opgeskort.

Bedryfsramings dui nou daarop dat kakaoversendings by Ivoorkus-hawens tussen Oktober en einde Januarie met 35% getuimel het teenoor ʼn jaar tevore.

“Dit is ʼn baie moeilike oes. Ons sal miskien 1 900 ton haal vergeleke met amper 3 000 ton verlede jaar,” sê Sylla. “Maar daar is koöperasies waar dit erger is; nie eens 200 of 300 ton nie.”

Die kakaomark het vandeesweek sy meteoriese styging verleng.

Die Londense prys van kakao het Dinsdag ʼn hoogtepunt op £4 248 (sowat R101 000) per ton bereik en in New York het die prys van kakao ʼn 46-jaar-hoogtepunt van $5 288 (byna R100 000) per ton bereik.

“Dit blyk net ʼn kwessie van tyd te wees voordat die kakaoprys in New York die hoogtepunt nader van $5 379 (sowat R102 000) per ton wat in 1977 gestel is,” sê Carsten Fritsch, ʼn ontleder van Commerzbank.

Die prys van kakao het verlede jaar die vorige hoogtepunte van 2011 oorskry toe die mark geruk is deur vrese oor die impak van naverkiesingsgeweld in die Ivoorkus.

Produsente het ook moontlik nuwe probleme weens die herlewing van die El Niño-klimaatverskynsel wat Wes-Afrika bedreig.

“Dit beteken dat die kakaomark waarskynlik ook ʼn aanbodtekort in die huidige 2023-’24-oesjaar, die derde jaar agtereenvolgens, te wagte kan wees,” waarsku Fritsch.

“Handelaars is bekommerd oor nog ʼn kort produksiejaar en hierdie gevoelens is versterk deur El Niño wat Wes-Afrika se oeste met warm en droë weer bedreig,” sê Jack Scoville, ʼn ontleder by die Price Futures Group.

Klimaatsverandering hou reeds ʼn groot uitdaging vir boere in.

In Ghana verbou ses streke die kakaoboon: die Oostelike streek, Ashanti, Brong Ahafo, Sentraal-, Volta- en Westerse streek.

Produksie het egter weens kwynende grondvrugbaarheid en wisselende reënval na die weste van die land verskuif.

  • Die Ivoorkus en Ghana was saam verantwoordelik vir byna 60% van 2022-’23 se wêreldwye oes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Baie slegte nuus vir sjokolade soettande. Dit bly maar lekker

Papsak ·

Verskonings en nogmals verskonings om tog net goed duurder en duurder te maak vir ons maak hulle op hulle gelukkigste so iets moet skuld kry nou die weer oorsaak

Gaitsigubib ·

Ek het simpatie met die manne omdat ek self boer. Dit maak nie vir my saak dat hulle swart boere van Wes Afrika is nie. Hulle verdien hul brood op n eerlike manier. Dis net opvallend dat mense wat so gal gebraak het in die berigte wat boere (die voedsel bedryf die afgelope 2 weke) van SA se probleme uitlig, nou niks tese het nie. Dit kom voor of hulle dalk net sukkel om n diepper liggende haat t.o.v boere van SA in toom te hou.

Martie Smartie ·

Vir ‘n boer lê jy darem lekke op die internet rond ne

Martie Smartie ·

Tjoklit is in elk geval klaar so duur, hulle kan dit maar gerus hou. Daylight robbery

Gaitsigubib ·

Eish Smartie, vir my is baie tyd = niks werk/ geld. Ek hoop dit verander in die volgende week.

Anel ·

Ai, maar so ‘n ou donker soetdingetjie is maar altyd lekke, maar die afgelope tyd bietjie aan die duuuur kant. En mense wat so kla, die boere kan niks aan die weer doen nie. Onthou dit. Hulle boer op God se genade. Wees dankbaar dat daar nog boere is wat elke dag hulle lewens waag om vir ons kos op die tafel te sit. Ons kan en moet vir hulle bid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.