Gyselaarsdrama: Verdagte lank reeds op polisie se radar

Die sinagoge in Colleyville waar vier mense gyselaar gehou is (Foto: Brandon Bell/Getty Images/AFP)

Die Britse intelligensiedienste hou sedert einde 2020 die man dop wat verlede naweek vier mense by ʼn sinagoge in Texas, VSA, as gyselaars aangehou het. Hy was vermoedelik ’n djihadistiese verdagte.

Die ondersoek het begin toe die man, geïdentifiseer as die 44-jarige Malik Faisal Akram, van Blackburn, Engeland, na die VSA verhuis het.

Die ondersoek is egter ná meer as ʼn maand gestaak weens ʼn gebrek aan bewyse teen hom. Die intelligensiedienste sal na verwagting nou die ondersoek hervat.

Onder die 40 000 individue wat die intelligensiedienste dophou is daar ongeveer 3 000 djihadistiese verdagtes.

Maroela Media het vroeër berig Akram het vier mense vir langer as tien uur as gyselaar aangehou. Polisie het die sinagoge Saterdagaand binnegedring en Akram doodgeskiet. Die vier gyselaars – onder wie ʼn rabbi, Charlie Cytron-Walker – is almal ongedeerd bevry.

Brittanje se teenterreurpolisie het ure later twee tieners in Manchester in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle is egter nie aangekla nie en die volgende dag weer vrygelaat.

Pres. Joe Biden wou nie bespiegel oor die motief nie, maar het blykbaar berigte bevestig dat Akram die vrylating van die veroordeelde terroris Aafia Siddiqui, ʼn Pakistanse neurowetenskaplike bekend as “Lady Al-Qaeda”, geëis het.

Die voorval het vrae laat ontstaan oor waarom Akram, wat glo geestesgesondheidsprobleme en ʼn kriminele rekord het, aan die einde van verlede jaar in die VSA toegelaat is.

Volgens verskeie Britse mediaplatforms is Akram uit ʼn plaaslike hof in Blackburn verban, weens opmerkings wat hy teenoor personeel gemaak het oor die aanvalle van 11 September 2001 in New York.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.