Haïti se president sterf in sluipmoordaanval

Pres. Jovenel Moise is vroeg in sy huis vermoor. (Foto: Valerie Baeriswyl/AFP)

Owerhede in Haïti het bevestig dat pres. Jovenel Moise Woensdagoggend in sy huis deur ʼn groep gewapende mans vermoor is.

Die tussentydse eerste minister van Haïti, Claude Joseph, is tans in beheer van die land se sake.

Moise se vrou is tydens die voorval beseer en na ʼn hospitaal geneem.

Joseph het mense gevra om kalm te bly en die versekering gegee dat die veiligheid van landsburgers die polisie en weermag se hoogste prioriteit is.

“Die president is by sy huis vermoor deur buitelanders wat Engels en Spaans praat,” het Joseph in ʼn verklaring gesê.

Moise het Haïti ingevolge ʼn dekreet regeer nadat die verkiesing in 2018 uitgestel is weens verskeie twispunte, onder meer oor wanneer Moise se ampstermyn eindig.

Benewens die politieke krisis het ontvoerings vir lospryse die afgelope paar maande skerp toegeneem, ʼn aanduiding van die toenemende invloed van bendes in die land. Haïti gaan ook gebuk onder armoede en gereelde natuurrampe.

Moise het glo hewige opposisie gehad van gedeeltes van die bevolking wat sy mandaat as onwettig beskou het. Sewe eerste ministers het boonop binne net vier jaar onder hom gedien.

Joseph sou glo ná slegs drie maande in die pos as eerste minister vervang word.

Saam met die presidents-, wetgewende en plaaslike verkiesing sou Haïti binnekort ʼn grondwetlike referendum hou nadat dit twee keer uitgestel is weens die Covid-19-pandemie. Die idee vir dié referendum, wat deur Moise gesteun is, is deur die opposisie en baie burgerlike organisasies verwerp.

Die grondwet wat tans geld is in 1987 geskryf ná die val van die Duvalier-diktatorskap en verklaar dat enige konsultasie wat daarop gemik is om die grondwet deur ʼn referendum te verander, verbode is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.