‘Halloween’-aktrise: ‘Ek haat gruwelflieks’

Jamie Lee Curtis met haar Golden Lion-toekenning vir lewensbydrae op die Venesiese rolprentfees in Lido, Italië. (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Jamie Lee Curtis verskyn al 43 jaar lank in die Halloween-flieks, maar het Woensdag gesê haar geheim vir sukses is dat sy gruwelflieks haat.

“Ek word maklik bang,” het Curtis op die Venesiese rolprentfees gesê tydens die première van die jongste aflewering, Halloween Kills.

“Ek is ʼn onopgeleide akteur. Ek het nog nooit akteursklasse bygewoon nie.

“Maar ek haat hierdie flieks. Ek verpes dit. Ek hou nie daarvan om skrikgemaak te word nie. So dit is ʼn natuurlike talent – daardie egte emosionele konneksie met vrees. Jy sien wat gebeur op die skerm,” het sy op ʼn mediakonferensie gesê.

Curtis (62), dogter van die Hollywood-legendes Tony Curtis en Janet Leigh, het ook ʼn toekenning vir ʼn lewensbydrae ontvang vir haar lang loopbaan, wat lokettreffers soos A Fish Called Wanda en True Lies insluit.

Sy het gesê die rol van Laurie Strode, wat sy vertolk sedert die eerste Halloween-fliek deur regisseur John Carpenter in 1978 uitgereik is, was belangrik vir haar loopbaan, maar het haar aanvanklik onder skoot geplaas van feministe wat probleme gehad het met die storie wat slegs die maagd toegelaat het om te oorleef.

“Ek was lank in gruwelflieks en dit het deure in die bedryf vir my oopgemaak, maar die vrouebewegings het my gehaat,” het Curtis gesê.

“Ek was ook in Trading Places waarin ek my hemp uitgetrek het en skielik was ek wat hulle genoem het ʼn volwaardige A-lyser.

Jamie Lee Curtis met haar Golden Lion-toekenning vir lewensbydrae op die Venesiese rolprentfees in Lido, Italië. (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

“Nou, vandag, sal die vrouebeweging mal wees oor Laurie Strode… haar krag, haar vermoë om terug te baklei in teëspoed, maar op ʼn manier was dit destyds anti-feministies.”

Die Halloween-reeks is in 2018 weer uitgereik met aansienlike sukses by die loket, met indie-regisseur David Gorden Green aan die stuur.

Die nuwe aflewering is die tweede deel van ʼn trilogie deur Green, met die derde deel wat binnekort verfilm word.

“Ek het die derde een gelees op die vliegtuig hierheen en ek kon nie slaap nie. Dit is ʼn buitengewone manier om die trilogie af te sluit,” het Curtis gesê.

Sy het gesê Green se sukses met die nuwe trilogie lê in sy weerspieëling van werklike kwessies, veral vroue wat patriargie aandurf en die betogings teen onregverdigheid.

“Ek sal daarvan hou om hom saam te neem na [Las] Vegas, want ek glo hy sal hope geld wen omdat hy so ver vooruit kan dink,” het Curtis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.