Hare waai oor president se buitensporige haarrekening

Francois Hollande, president van Frankryk, tydens Bastilledag in Parys, Frankryk (14 July 2016) Foto: AP Photo/Francois Mori

Francois Hollande, president van Frankryk, tydens Bastilledag in Parys, Frankryk (14 July 2016) Foto: AP Photo/Francois Mori

Die Franse president Francois Hollande lyk nie soos iemand wat €10 000 (ongeveer R158 000) per maand aan sy hare spandeer nie.

Die ongewilde sosialistiese leier, wat verkies is op ʼn populistiese mandaat dat hy superrykes sou belas, is gewikkel in ʼn vernederende skandaal oor buitensporige haarsorg wat kritici #Coiffeurgate noem.

Hollande moes Donderdag die skandaal in sy tradisionele Bastilledag-toespraak, wat op televisie uitgesaai word, aanspreek. Hollande het gehoop om dié oomblik te gebruik om veld te wen voor Frankryk se volgende verkiesing in Mei.

Hollande het die uitgawes aan sy presidensiële barbier verdedig en die nasie gesê sedert hy in 2012 as ʼn selfgestileerde “Monsieur Normal” aangestel is en as ʼn strydvegter vir armes, het hy sy eie salaris met 30% gesny, die Elysee-paleisbegroting met €9 miljoen verminder en sy personeel met 10% verminder.

“Jy kan my oor enigiets nader, maar nie hieroor nie,” het hy gesê, duidelik ongemaklik met die onderwerp.

Die president het gesê hy is nie verantwoordelik vir die reëlings rondom sy haarsorg nie. “Wat betref die haarkapper se kostes, het ons eksterne kontrakteurs gebruik.”

Kritici het egter hul verbasing uitgespreek dat ʼn leier, wie se hare al hoe dunner raak, soveel per maand aan stilering kan spandeer, wanneer ʼn luukse haarstilering vir mans in Parys ongeveer €50 kos.

Daar was nie enige aanduiding of die geld vir haarproppe of ander chirurgiese haarprosedures aangewend is nie.

Teenstanders het ook daarop gewys dat Hollande juis verkies is oor sy uitlatings soos “Ek hou nie van die rykes nie”, in skerp teenstelling met sy konserwatiewe voorganger, Nicolas Sarkozy, wat van uitspattige juwele en luukse restaurante gehou het.

Hollande se haarkapperrekening kom ook te midde van ʼn week waar die president die land se verdelende arbeidswetgewing wou verdedig wat reeds tot weke lange stakings gelei het. Die nuwe wette maak dit makliker om werknemers aan te stel en af te dank en ʼn normale werksweek langer te maak.

Franse media het bereken Hollande se maandelikse instandhouding vir sy hare is ongeveer vier keer meer as ʼn gemiddelde Franse werknemer se salaris.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

29 Kommentare

jongste oudste gewildste
Janneman

Wil nou nie spog nie maar ek het meer hare op my rug as die ou op sy kop!

Koeks

Ten minste lyk sy hare netjieser as Boris of Donald s’n….

humor

Beslis, hy en z vestaan mekaar mooi!!!

Sputnik

Shucks mense, moenie dat ons prez hiervan hoor nie!! Hy kan dalk net dieselfde kontrakteurs na Nkandla ontbied! Die R/Euro is juis so sleg!

spokie

LOL! Dis n goeie ding dat sommige plaaslike leiers nie hare het nie!