Harry en Meghan deel soen by Invictus-spele

Harry en Meghan deel ‘n soen tydens die Invictus-Spele se openingseleentheid (Foto: Robin Utrecht/AFP)

Die hertog en hertogin van Sussex het omtrent die koppe laat draai tydens die openingsgeleentheid van vanjaar se Invictus-spele in Den Haag, Nederland.

Die spele het op Saterdag afgeskop en is een van die Amerikaanse egpaar se min openbare verskynings sedert hul uittrede as senior koninklikes in 2020.

In wit en swart geklee het Meghan haar man met ’n liefderyke toespraak bekend gestel. Hulle het ook tydens die geleentheid ’n soen gedeel, iets wat ongewoon vir koninklike paartjies is.

“Ek kan hom nie méér liefhê en respekteer nie, en ek weet dat julle dieselfde voel.”

Só is Harry deur sy vrou, Meghan Markle, aan die woord gestel tydens die openingsgeleentheid van die Invictus-spele.

Sy het ook in haar toespraak die oorlogsveterane wat aan die spele deelneem, welkom geheet.

“Dankie vir julle diens en dankie aan al die familie en vriende wat hier is en julle ondersteun. Dit is toewyding, en hierdie is die Invictus-familie,” het sy gesê.

Die spele is in 2014 in Londen, Engeland, deur die Harry van stapel gestuur en bied vir gewonde krygers, soos die deelnemers op die Invictus-spele se webwerf genoem word, die geleentheid om met hul sportvernuf te spog.

Dis ook by 2017 se Invictus-spele waar die twee die wêreld aan die gons gehad het oor die begin van hul romanse.

April blyk ’n besige maand vir die egpaar te wees aangesien hulle kort voor die afskop van die spele ’n draai by koningin Elizabeth II gaan maak het, die eerste besoek van sy soort sedert die Sussex-egpaar in 2020 hul goed gepak het en Engeland vir Kalifornië verruil het.

Dit kom na ’n omstrede stryd wat die egpaar met die regering van die Verenigde Koninkryk oor polisiebeskerming gehad het.

Aangesien die egpaar afstand gedoen het van hul koninklike pligte, is hulle hul reg tot polisiebeskerming in die Verenigde Koninkryk kwyt.

Dit het egter gelei tot ’n stryd waartydens die hertog aangevoer het dat ’n private veiligheidspan nie voldoende toegang tot Brittanje se intelligensie het om sy gesin te beveilig nie.

Die Britse regering het ook daarteen vasgeskop dat Harry self vir polisiebeskerming opdok.

Hoewel dit vreemd klink dat private veiligheidsdienste nie genoegsame beskerming vir die egpaar en hul twee kinders sal bied nie, het Buzzfeed News onlangs berig dat Brittanje se streng vuurwapenwetgewing, wat verhoed dat private veiligheidsmaatskappye vuurwapens dra, moontlik Harry se besluit beïnvloed.

Koninklike kommentators bevraagteken egter waarom Harry onveilig sou voel om Brittanje te besoek, maar nie in Nederland tydens die week lange Invictus-spele nie.

Hierdie stryd het tot gevolg gehad dat die Sussex-egpaar prins Philip se gedenkdiens, wat op 29 Maart plaasgevind het, misgeloop het.

Gegewe die beperkte aard van prins Philip, hertog van Edinburgh, se begrafnis in 2021, wat weens Covid-19-beperkings net deur 30 mense bygewoon kon word, is hierdie maand se gedenkdiens bedoel om ’n geleentheid te bied vir ’n nasionale viering van die hertog se lang lewe en diens.

Bronne: Today, E!News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jr ·

Aagh wragtag is dit nou nuus. SO WHAT? EK SOEN MY VROU ELKE DAG. BIG DEAL. SY het seker vir hom gesê hy moet dit doen vir image

Phillip ·

Nou hoe wys hulle hulle liefde vir mekaar deer klappe toedeel . So drukkies is ook uit daar nee hel dan wil ek nie daai titel drae nie

Winnie ·

Ag shame is dit nou nuus. Wys eerder ons eie mense se swaarkry

Catherina ·

Sy bly n aktrise….geen tyd vir haar. Familie aan albei kante vervreem

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.