Harry en Meghan in EU ná draai by koningin

Prins Harry en sy vrou, Meghan, is tans in die Nederlandse stad Den Haag waar hulle die Invictus Spele bywoon. (Foto: Remko de Waal / AFP)

Brittanje se prins Harry en sy vrou, Meghan, het Vrydag hul eerste gesamentlike openbare verskyning in Europa gemaak sedert hulle die koninklike lewe twee jaar gelede totsiens gewuif en na Noord-Amerika verhuis het.

Hulle is tans in die Nederlandse stad Den Haag waar hulle die Invictus Spele bywoon.

Die twee het glo Donderdag eers ʼn besoek aan koningin Elizabeth by Windsor-kasteel in Engeland afgelê. Die koningin vier binnekort haar 96ste verjaardag.

Harry en Meghan het onlangs onder hewige kritiek deur Britse poniekoerante deurgeloop omdat hulle nie prins Philip se gedenkdiens in Westminster Abbey verlede maand bygewoon het nie. Philip was 73 jaar met die koningin getroud voordat hy in April verlede jaar in die ouderdom van 99 dood is.

Harry, wat in die Britse weermag in Afghanistan gedien het, het die Invictus-geleentheid wat vandag (Saterdag) begin destyds vir gestremde militêre veterane gestig.

Meer as 500 deelnemers uit 20 lande neem aan dié Spele deel, wat al twee keer weens die Covid-19-pandemie uitgestel is.

ʼn Oekraïense span van 19 mense neem ook deel en is met ʼn groot toejuiging verwelkom. Een van hul spanlede kan egter nie die Spele bywoon nie aangesien sy te midde van die Russiese oorlog in Marioepol in Oekraïne gevangene geneem is. Yuliia Paievska, ʼn paramedikus, is die enigste vroue-atleet in die span en sou aan boogskiet en swem deelneem.

Harry sal Saterdag ʼn toespraak by die Spele, wat op 22 April eindig, lewer.

The Guardian berig dat Harry en Megan nie hul besoek aan Windsor vooraf aangekondig het nie, aangesien dit ʼn persoonlike besoek is. Die egpaar het na bewering ook ʼn ontmoeting met prins Charles en Camilla, hertogin van Cornwall, gehad.

Harry en Meghan se kinders, Archie (2) en Lilibet (10 maande), was nie by toe die paartjie Windsor besoek het nie. Lilibet is na die koningin vernoem, hoewel sy haar nog nooit ontmoet het nie.

Dit is nie duidelik wanneer Meghan en Harry na die VSA sal terugkeer en of hulle weer ʼn besoek aan sy ouma sal aflê nie.

  • Bykomende bron: The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.