Harry en Meghan: Paleis is ‘hartseer’

Harry en Meghan se onderhoud het ‘n groot opskudding veroorsaak. (Foto: Ben Stansall/AFP)

Koningin Elizabeth II het Dinsdagaand gereageer op kwetsende bewerings van rassisme deur haar kleinseun, prins Harry en sy vrou, Meghan.

“Die hele familie is hartseer om te hoor van die volle omvang van hoe uitdagend die laaste paar jaar vir Harry en Meghan was,” het die koningin in ʼn verklaring gesê.

“Die kwessies wat geopper is, veral dié oor ras, is kommerwekkend. Hoewel herinneringe kan verskil, word dit baie ernstig opgeneem en sal dit privaat deur die familie hanteer word.

“Harry, Meghan en Archie sal altyd baie geliefde familielede bly.”

Buckingham-paleis was onder toenemende druk om te reageer op die bewerings wat gemaak is in die onderhoud met Oprah Winfrey. Dit is Sondag vir die eerste keer uitgesaai en het ʼn krisis vir die familie veroorsaak wat laas in die 1990’s met die dood van Harry se ma, Diana, gesien is.

Die onderhoud het heelwat bespiegeling ontlok oor die senior koninklike wat voor die geboorte van hul seun gevra het hoe donker sy vel sou wees. Meghan, wie se ma swart en pa wit is, het ook gepraat oor haal selfdoodgedagtes, asook dat sy geen steun gedurende haar tyd in die koninklike familie ontvang het nie.

Winfrey was stomgeslaan deur die bewering van rassisme wat glo ʼn oproer in die paleis veroorsaak het – en ʼn geskarrel oor wat die beste manier is om dit te hanteer.

Prins Harry en sy vrou Meghan tydens hul onderhoud met Oprah Winfrey. (Foto: Joe Puugliese/Harpo Productions/AFP)

Prins Charles, Harry se pa en die troonopvolger, het vroeër – tydens sy eerste openbare verskyning sedert die herrie losgebars het – ʼn vraag oor wat hy van die onderhoud gedink het, geïgnoreer.

ʼn YouGov-meningsopname wat ná die onderhoud op Britse televisie onder 4 656 mense gedoen is, het gewys dat byna ʼn derde van mense gedink het die paartjie is onregverdig behandel, byna dieselfde persentasie as diegene wat die teenoorgestelde glo. Ouer mense is meer geneig om hulle by die koninklike familie te skaar, het die opname bevind.

Harry en Meghan se onthullings is vergelyk met ʼn bom wat op Brittanje se bekendste familie en een van sy mees gerespekteerde instellings laat val is. Hierdie vlak van omstredenheid is nie gesien sedert die baie openbare ineenstorting van prins Charles en Diana se huwelik nie.

Prinses Diana (Foto: Kensington-paleis)

Diana het in 1992 saam met die skrywer Andrew Morton gewerk aan ʼn onthullende biografie en het in 1995 ʼn onderhoud aan die BBC toegestaan wat groot opslae gemaak het. In die onderhoud sê sy dat sy en prins Charles ontrou was, dat hy nie geskik is om koning te wees nie en dat sy geïsoleerd gevoel het terwyl sy met onder meer met bulimie gesukkel het.

Morton het gesê Harry en Meghan se bewerings gaan deur die geslagte gevoel word op dieselfde manier wat Diana sʼn gedoen het.

Meghan se vervreemde pa, Thomas Markle, het egter die koninklikes verdedig en gesê hy hoop die opmerking oor velkleur was “net ʼn dom vraag”.

“Dit kan so eenvoudig wees, dit kan iemand wees wat ʼn dom vraag vra, eerder as om ʼn blote rassis te wees,” het hy aan die Britse ITV gesê.

Miljoene mense kyk

Net meer as 17 miljoen het Sondagaand na Winfrey se twee uur lange onderhoud met Harry en Meghan op die Amerikaanse uitsaaier CBS gekyk. Meer as 11 miljoen mense het daarna op ITV ingeskakel om dit in Brittanje te kyk.

Die paartjie het die koninklike lewe verlede jaar op dramatiese wyse vaarwel toegeroep en woon nou in Kalifornië met hul jong seun, Archie. Hulle verwag later vanjaar ʼn dogtertjie.

Harry (36) het erken dat sy ma se dood in Parys in 1997 – sy het gesterf in ʼn jaagtog om van die paparazzi weg te kom – sy geestesgesondheid geraak en sy siening van die media beïnvloed het.

Die Britse TV-aanbieder Piers Morgan het bedank weens sy opmerkings oor die onderhoud. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Hy en Meghan (39) het koerante van rasstereoptipering beskuldig, veral gesien in die lig van hul nuusdekking van Harry se skoonsuster, Kate, wat wit is. Dit was egter hulle opmerkings op die versmorende struktuur van die koninklike lewe en bewering van ongenaakbare houding wat groter implikasies vir die monargie het, asook vir dít waarvoor dit staan.

Intussen het die Britse TV-aanbieder Piers Morgan, wat Meghan daarvan beskuldig het dat sy die bewerings versin het, Dinsdag bedank. Meer as 41 000 klagtes oor sy opmerkings is aanhangig gemaak.

Nie die koningin, nou 94 jaar oud, of haar 99-jarige man, prins Philip, het die rassistiese opmerking gemaak nie, het Winfrey aan CBS gesê.

Dit kan egter steeds groot skade berokken omdat die monarg die hoof van die Statebond is, ʼn organisasie wat bestaan uit 54 hoofsaaklik voormalige Britse kolonies, talle daarvan in Afrika. Massa-immigrasie het Brittanje verander sedert die koningin in 1952 aan bewind gekom het en al hoe meer mense definieer hulself as van byvoorbeeld gemengde afkoms.

Die geskiedkundige David Olusoga het in The Guardian geskryf Harry en Meghan se bewerings is “nie net ʼn krisis vir die koninklike familie nie, maar vir Brittanje self”.

Harry het self al ʼn rassistiese opmerking teen ʼn voormalige weermagkollega gemaak en is jare gelede by ʼn partytjie afgeneem in ʼn Nazi-soldaat se uniform.

Hy het egter gesê hy het die kwessie getakel nadat hy Meghan ontmoet het, en staan nou projekte voor wat rassisme beveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

49 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois

Ag asseblief. Dis deesdae so maklik om die raskaart te speel as dinge nie in jou guns is

Eiervrug

Megan praat snert. Watter regdenkende mens sal vra hoe donker jou ongebore baba sal wees???. Dit is mos nie iets wat jy voor die tyd sal weet nie?? Dis soos om te vra watter kleur jou ongebore baba se hare eendag gaan wees…

Jakes

Ek dink dat hierdie bewerings wat deur Harry en Meghan gemaak word, n storm in n teekoppie is. Dit is elke mens se demokratiese reg om hul eie mening te lug ten opsigte van velkleur. Niemand kan n ander persoon dwing om n spesifieke mening te huldig oor sensitiewe sake nie. Hou maar vir Harry en Meghan dop en dan praat ons oor n jaar weer.

Natasha

Mense wat geen benul het wat dit is om deur die media gejag te word nie is baie veroordelend. Hulle doem die media vir Diana se dood, maar doem Meghan vir die media. Dubbele standaarde is dit nie? Wat ek sien deur die hele debakel is ‘n man wat opgestaan het vir sy vrou en sy familie wil beskerm ongeag wie reg of verkeerd is, hy doen die eerbare ding. Niemand buiten die koninklikes weet wat werklike daar aangaan of waaraan iemand onderwerp word om deel te wees van hulle vriende of familie nie. Ek wens mense wil ophou om… Lees meer »

LANA is ELANè

Dat een enkele mens soveel mag het om ‘n eeu oue monargie se aansien op so agteraf manier in flarde te skeur, gaan my verstand te bowe. ‘n Mens sou dink dat sy haar probleme deur die regte kanale sou opper, maar nee, waarom as jy miljoene en miljoene mense voor hul tv stel kan laat sit en “drool” terwyl daar vuil wasgoed in die openbaar gewas word. Die vrou dink die monargie is ‘n stel van die een of ander reeks waarin sy en haar man die selfaangestelde hoofrolle vertolk. Maar ek het dan vergeet hulle het juis padgegee… Lees meer »