Harry, Meghan wys klein Lilibet

Harry, Meghan, Archie en Lilibet. (Foto: Alexi Lubomirski/Instagram)

Prins Harry en sy vrou, Meghan, het die eerste amptelike foto van hul dogtertjie Lilibet, wat in Junie vanjaar gebore is, in hul Kerskaartjie gebruik.

Dit is die eerste amptelike foto van die egpaar se tweede kind wat openbaar bekendgestel is.

Daar kan in die gesellige familiefoto gesien word hoe Meghan vir Lilibet in die lug optel terwyl sy langs Harry sit. Die egpaar se rooikopseuntjie Archie (2) sit op Harry se skoot.

Die foto vir dié Kerskaartjie is deur Alexi Lubomirski by die gesin se huis in Santa Barbara, Kalifornië, geneem. Lubomirski het ook die egpaar se verlowing- en troufoto’s geneem.

Volgens die BBC is die kaartjie per e-pos aan ʼn reeks organisasies gestuur wat deur die Archewell-liefdadigheidsorganisasie, wat die hertog en hertogin verlede jaar gestig het, ondersteun word.

Dit is getiteld “Happy Holidays” en dra die boodskap: “Hierdie jaar, 2021, het ons ons dogter Lilibet in die wêreld verwelkom. Archie het ons ʼn ‘Mama’ en ʼn ‘Papa’ gemaak, en Lili het ons ʼn gesin gemaak.”

Die kaartjie is uitgereik om die egpaar se skenkings aan Amerikaanse organisasies te lys wat onder meer help om inwoners van Afghanistan te help verhuis en Amerikaanse gesinne wat betaalde ouerskapverlof benodig.

Die kaartjie eindig met die woorde: “Ons wens almal ʼn gelukkige vakansieseisoen en voorspoedige nuwe jaar toe, van ons familie na joune! Soos altyd, Harry, Meghan, Archie en Lili”.

Die liefdadigheidsorganisasie Team Rubicon, een van die organisasies wat deur die egpaar ondersteun word, het die foto op Twitter gedeel.

Lubomirski het intussen ook die kostelike foto op sosiale media gedeel en gesê dat dié dag saam met die hertog en hertogin van Sussex ʼn vreugdevolle ervaring was en “een wat ek uiters bevoorreg voel om vas te vang”.

“Om die verhaal van hierdie gesin – wat ek eers as verloofdes, toe op die dag van hul troue afgeneem het – te kan voortsit en te sien hoe hul liefde in twee pragtige kinders gemanifesteer het, is ʼn groot eer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.