Hartaanval het glo haar ‘Oujaarsaand-ete bederf’

Holly Jones Foto: Facebook

Holly Jones Foto: Facebook

ʼn Haarkapper van Indianapolis in Indiana word skerp veroordeel nadat sy gekla het dat ʼn vrou haar Oujaarsaand-ete bederf het toe sy ʼn hartaanval gehad het.

Holly Jones het op die restaurant, Kilroy’s Bar N’ Grill, haarself teen die personeel uitgespreek wat glo aan haar gesê het “iemand wat sterf is belangriker as sy en die persone wat saam met haar eet”.

Volgens haar plasing wil dit voorkom of Jones onder die indruk was dat die persoon aan ʼn oordosis verslawingsmiddels gesterf het. Die vrou, in haar 70’s, het egter ʼn hartaanval gehad. Paramedici is na die restaurant ontbied om haar te help.

“Ek sal nooit weer na dié restaurant op Oujaarsaand terugkeer nie!” het Jones op Facebook geskryf. My aand is bederf weens die manier waarop ons behandel is, en ons het meer as $700 spandeer, en ons ete is bederf toe ons sien hoe ʼn persoon, wat aan ʼn oordosis gesterf het, op ʼn rolstoel verwyder word. Ons kom elke jaar na Kilroy’s om Oujaarsaand te geniet, maar vanaand is daar op ons geskree en die bestuurder het weggeloop toe ons ons rekening wou opklaar.” Jones maak verder van ʼn paar vloekwoorde gebruik om verloop van die res van die aand te verduidelik.

Die bestuurder, Chris Burton, het vinnig op haar kommentaar op Facebook reageer en gesê haar gedrag is “walglik”. “Dankie vir jou terugvoer! Ons waardeer terugvoer, positief of negatief,” het Burton geskryf. “Ek hou veral van hierdie tipe terugvoer sodat mense kan sien met watter walglike mense ons soms te doen kry. In die eerste plek is die ‘dwelmverslaafde’ ʼn 70-jarige vrou wat ʼn hartaanval gehad het. Sy het gelukkig by die hospitaal haar bewussyn herwin en oorleef. Dit klink of jy baie besorg was oor haar, so ek wou jou graag laat weet. Hierdie arme vrou, wat Oujaarsaand saam met haar man en seun geniet het, is op die vloer geplaas van ʼn propvol kroeg en haar bloes is voor almal verwyder sodat paramedici haar kon help.”

Volgens Burton het die kelnerin, wat nooit vloek nie, dié aand ook gehuil. “Ek is seker sy het dit geniet om op Oujaarsaand vir mense soos julle te werk.”

Burton het gesê ʼn emosionele bestuurder het hom gekontak om te sê dat iemand by Kilroy’s dood is, en dat die personeellede dit nie lekker kan verwerk nie (in hierdie stadium het hulle nog nie geweet die vrou gaan dit oorleef nie).

Hy het bygevoeg hy is dankbaar Jones sal nie weer terugkeer nie, aangesien hulle nie weer “enigiemand só ongevoelig en aaklig” wil hê nie. “Ek waardeer enigiemand wat hulle geld by Kilroy’s wil kom bestee, totdat hulle soos jy optree. Jy kan jou geld iewers anders heen vat, en ek sal nie ‘n slapelose nag hê nie. Voorspoedige Nuwejaar!”

Kilroy se Facebook-blad het talle positiewe kommentaar ontvang wat Burton komplimenteer vir die manier waarop hy sy personeel en ander klante verdedig het.

Jones se werkgewer, Serenity Salon, het hulleself gedistansieer en bygevoeg hulle onderskryf nie haar gedrag nie.

Volgens Jones het iemand haar Facebook-rekening gekaap en sy aanvaar nie verantwoordelikheid vir die kru plasing nie. Sy het haar Facebook-rekening daarna verwyder.

Die slagoffer se dogter het intussen met ʼn veldtog op die GoFundMe-skarefinansieringswebwerf begin om vir die mediese uitgawes te help betaal. Serenity Salon het reeds $500 geskenk.

Serenity Salon is aware of the most recent negative publicity surrounding one of our Booth Rent Stylist. The posting to…

Posted by Serenity Salon on Sunday, 3 January 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarie ·

Dit raak nou ‘n mode om, wanneer ‘n persoon op fb gal gebraak het & in diè proses tè vêr gegaan het, die verskoning te gebruik, dat iemand sy of haar fb blad gekaap het, bla bla bla…

M A ·

Sien, dis nie net Suid Afrikaners wat ondeurdagte goed op sosiale media skryf nie. Elke land het maar sy kraters en hulle is gewoonlik maar n klein persentasie van die bevolking. Die res weet wanneer om hulle monde te hou.

AmY ·

So ‘n paar weke gelede het ‘n vroutjie in ons kerk ‘n epileptiese aanval gekry tydens die diens.

Ons predikant het doodeenvoudig gesê sy moet verwyder word, want sy ontstel die mense.

Nou is sy sommer na agter in die kerk geskuif.

So, as predikante nie eens omgee nie, hoe moet normale mense dan omgee vir hul medemens se pyn en siekte?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.