‘Hartklop’ maand ná Beiroet-ontploffing in puin gehoor

Reddingswerkers vroeg Vrydagoggend op die toneel waar daar na ‘n moontlike oorlewende gesoek word. (Foto: AP Photo/Hussein Malla)

Reddingswerkers is ʼn maand nadat ʼn ontploffing die Libanese hoofstad, Beiroet, geruk het, verwoed besig om deur die puin na ʼn moontlike oorlewende te soek nadat daar vandeesweek ’n polsende sein in die puin gehoor is. Dié sein kan moontlik op ʼn oorlewende se hartklop dui.

Daar word nou op ’n wonderwerk gehoop nadat Flash, ʼn Chileense soek-en-reddingspan se snuffelhond, Woensdagaand tydens dié span se besoek aan die Gemmayzeh-distrik aangedui het dat hy iets in die puin hoor.

Die hond het Donderdag na dieselfde plek, wat voor die ontploffing ʼn kroeg was, gegaan en gewys dat hy iets uitgesnuffel het. Reddingswerkers het daarna ʼn klankopsporingstoestel, wat seine of ’n hartklop kan optel, in die soektog ingespan. Die toestel het ʼn polsslag van 18 tot 19 slae per minuut in die puin opgetel.

‘n Chileense snuffelhond op die toneel waar daar na ‘n moontlike oorlewende gesoek word. (Foto: AP Photo/Hussein Malla)

Die toestel het teen Vrydagoggend ’n polsslag van ʼn skamele sewe slae per minuut gemeet terwyl reddingswerkers onverpoos met hyskrane, ʼn stootskraper en hulle kaal hande tussen die puin na ’n moontlike oorlewende gesoek het. Sommige omstanders het sommer self ingespring en saam in die puin begin soek.

“Daar is ’n 99% kans dat dit niks is nie, maar al is daar minder as 1% hoop, moet ons aanhou soek,” het Youssef Malah, ʼn burgerlike verdedigingswerker, Donderdag gesê.

‘n Reddingswerker vroeg Vrydagoggend op die toneel waar daar na ‘n moontlike oorlewende gesoek word. (Foto: AP Photo/Hussein Malla)

Francisco Lermanda, ’n Chileense vrywilliger, het gesê dat hul toerusting slegs ’n mens se asemhaling en hartklop kan optel en nie dié van diere nie. Volgens Lermanda is dit seldsaam, maar nie ongehoord nie, dat iemand ʼn maand lank onder die puin kan oorleef.

Dit was die afgelope paar weke baie warm in Libanon weens ʼn hittegolf wat hoë humiditeitsvlakke meegebring het.

Maroela Media het vroeër berig 191 mense is dood en sowat 6 000 beseer toe vermoedelik 2 750 ton ammoniumnitraat wat ses jaar lank in ʼn pakhuis op die hawe in Beiroet geberg is, op 4 Augustus ontplof het.

Duisende wonings en geboue het in die slag gebly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.