Hartseer nuus ná verwaarloosde diere se redding

Lenci die leeu se treurige toestand het die wêreld se aandag op die haglike omstandighede in die Safari Park-dieretuin in Fier, Albanië, gevestig. Foto: Facebook

WAARSKUWING: Van die foto’s in die berig kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Vir 11 verwaarloosde wilde diere is die nagmerrie van “Europa se slegste dieretuin” eindelik verby, maar vryheid was die sebra wat saam met hulle gered is, nie beskore nie.

“Ons het daarvan gedroom om te sien hoe hy vrylik rondhardloop in een van ons dierehawens,” skryf die dierewelsynsorganisasie Four Paws op hul webtuiste. “Ongelukkig sal dit nie gebeur nie, en hoewel ons nie eens kans gekry het om hom ʼn naam te gee nie, sal ons hom nooit vergeet nie.”

Four Paws is hartseer dat daar nie eens kans was om die naamlose sebra ’n naam te gee voor hy dood is nie. Foto: Facebook

Die naamlose sebra is dood kort nadat hy by sy tydelike blyplek aangekom het nadat hy en nog 11 diere Sondag uit die Safari Park-dieretuin in die stad Fier, Albanië, gered is waar hulle in haglike omstandighede aangehou is.

Four Paws sê die sebra was by sy volle positiewe tydens die vervoer, maar is onverwags dood kort nadat hy in sy tydelike blyplek vrygelaat is. “Daar is altyd bykomende risiko’s met die verdowing en vervoer van enige spesie, veral wanneer diere uit swak omstandighede gehaal word.

Dushi die driepotige beer kan uitsien na ‘n nuwe lewe in ‘n reservaat vir verwaarloosde bere in Noord-Duitsland nadat sy en haar maats gered is. Foto: Facebook

“Ons weet hoe baie julle almal [sosialemediagebruikers] vir hom omgegee het en jul voorstelle vir ʼn naam vir hom tydens daardie moeilike laaste dae in Fier het ons laat glimlag.”

ʼn Foto van die uitgeteerde leeu Lenci het twee weke gelede sosialemediagebruikers wêreldwyd geskok en die aandag op die nagmerrie in die Safari Park-dieretuin gevestig. “Die ongelooflik hartseer leeu is lewenslank in hierdie afgryslike omstandighede aangehou,” het Four Paws by die foto geskryf.

Hierdie foto van Lenci het die wêreld met skok van die omstandighede in die private dieretuin laat kennis neem. Foto: Facebook

“Julle kan duidelik sien hoe swak sy gesondheid moet wees. Een van Lenci se oë is erg beskadig – moontlik konjunktivis, wat behandel moes word. Maar dit kon nie gedoen word nie weens die swak higiëniese omstandighede in die dieretuin.”

Sondag kon Four Paws eindelik die 12 wilde diere, waaronder ook ʼn beer met drie pote, uit die “lewende hel” red waarin hulle so lank moes ly. “Hou duim vas vir ons,” het die organisasie vooraf gesê. “Ons almal weet dis ʼn gewaagde sending.”

Twaalf diere is uit die dieretuin gered; net 11 het oorleef. Foto: Facebook

Die 11 diere wat die redding oorleef het, word nou in ʼn tydelike skuiling gehou terwyl Four Paws woonplekke soek wat die beste by elke spesie pas. Hulle sal daar herstel tot hulle sterk genoeg is om weer geskuif te word.

“Die reddingspoging was vir die hele span ’n intense ervaring,” skryf Four Paws. “Ondanks die moeilike omstandighede het ons gemeenskaplike doelwit om die diere van die Safari Park-dieretuin te bevry, ons help deurdruk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Daleen ·

11 uit 12 het dit gemaak… ek sien dit as GOEIE nuus. Dankie Four Paws.
Gee die Zebra steeds ‘n naam, ‘n goeie gebaar om sy harseer storie te kan onthou.

Hannelie ·

Ek hoop daai patetiese dieretuin se hekke is vir ewig gesluit. My hart is seer om die diere so te sien, veral die leeu lyk erg verwaarloos.

Willie ·

Ai mens kry sommer trane in jou oe, hoe mense diere so kan mishandle..

christa ·

so bly daar is mense met groot harte soos die dierebeskermings mense. Dankie Four Paws vir julle onbaatsugtige diens. God het die diere op aarde geplaas om na om te sien en te leer wat liefde en omgee is, ongelukkig is daar ook ander mense wat nie dieselfde voel nie

Lammarié ·

So diep dankbaar vir hierdie goeie werk. Die diereryk is God se mooiste skepping.

honourable member ·

Dis hoekom dieretuine n groot onding is. Sulke mooi diere moet in die natuur wees nie in hokke nie. Diere het ook n groot behoefte aan spasie. Mense kan tog so onmenslik wees as dit by diere kom. Daar moet regtig gekyk word na wat in dieretuine aangaan.

LouE ·

In die lig van televisie programme en wildtuine is dit myns insiens nie meer nodig om dieretuine te hê nie.

Natan ·

Na my wete is Albanië sterk sosialisties/kommunisties. Dit verbaas my nie. Dieselfde gebeur in SA, soos Thandi Modise se saak met die DBV wat adv Gerrie Nel opneem. Gebeur met plase na grond transformasie en in landelike gebiede. Dit is skandelik. Dan moet sulke elemente oor jou regeer. Hoe jy jou diere behandel is ‘n refleksie van jou eie moraliteit het Ghandi gesê.

Vegter ·

Hoe kon dit vir jare gebeur ??
Die mense wat dit gesien het moes hulle monde oopmaak maar nee

jennefer ·

Gaan besoek die Bloemfontein dieretuin, dis ook n skandaal.

Ruby ·

Die mens is oor die dier aangestel….hulle straf sal hulle kry.

Gee die zebra nog steeds ‘n naam dat hy/sy onthou kan word, dit is so verskriklik wreed en hartseer. :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.