Harvey Weinstein: ‘Ek is onskuldig’

Harvey Weinstein (Foto: YouTube)

Harvey Weinstein, die bekroonde Amerikaanse rolprentvervaardiger (66) wat sedert Oktober verlede jaar deur tientalle seksuele aanklagte in die gesig gestaar word, het vandeesweek onskuldig gepleit op dié aanklagte.

Weinstein het Maandag vir die tweede keer sedert die begin van die jaar in die hof verskyn nadat hy homself einde Mei aan die polisie oorgegee het.

Die rolprentmagnaat wat vroeër op borgtog van $1 miljoen vrygelaat is, is Maandag vir ʼn tweede keer borgtog toegestaan.

Die jongste aanklagtestaat dui daarop dat ʼn derde vrou Weinstein ook nou voor die hof gaan daag vir seksuele aanranding en -teistering. Die vrou, wie se naam nog nie in dié stadium aan die media bekend is nie, daag die vervaardiger voor die hof in minstens drie aanklagte van seksuele aanranding – aanklagte wat ʼn lewenslange vonnis sou kon beteken as hy wél deur ʼn jurie skuldig bevind word.

Gloria Allred, die derde klaer se regsverteenwoordiger, het Maandag buite die hof gesê haar kliënt is bereid om te getuig indien die saak verhoor gaan word. Sy het gesê sy twyfel of Weinstein se regspan hom sal toelaat om te getuig omdat dit die ander regsverteenwoordigers ʼn geleentheid sou gee om hom onder kruisondervraging te plaas.

Ben Brafman, Weinstein se regsverteenwoordiger, het gesê Weinstein hoop steeds dat sy naam in ere herstel sal word.

Harvey Weinstein in die hof. Foto: AP

“Ons veg hierdie stryd een dag op ʼn slag – en vandag het ons hierdie rondte gewen,” het hy buite die hof gesê.

Brafman het gesê hy sluit nie die moontlikheid uit dat nóg aanklagte teen Weinstein bygevoeg kan word nie.

Meer as 75 vroue het Weinstein sedert verlede jaar van seksuele misdade beskuldig. Van die aanklagte sluit in die aktrise Rose McGowan wat beweer die rolprentmagnaat het haar in 1997 verkrag; die aktrise Annabella Sciorra wat beweer Weinstein het haar in 1992 in New York verkrag en die Noorweegse aktrise Natassia Malthe wat beweer dat hy haar in ʼn Londen-hotel in 2008 verkrag het.

Talle ander vroue, onder wie bekendes soos Cara Delevingne, Angelina Jolie en Gwyneth Paltrow, het ná die bewerings ook hul stemme by die klagte gevoeg.

Verskeie veldtogte, waarvan Time’s Up en #MeToo seker die grootste is, het kort ná die bewerings ʼn wêreldwye beweging begin waarin vroue opstaan teen seksuele misdade, marginalisering en ongelykheid in die werkplek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Prop Kotze ·

Net weer n maklike manier om geld te maak uit n ryk man uit

Wessie ·

Strooi man! Wil jy nou sê 75 vroue lieg oor dieselfde ding? Dis verregaande.

Casper Labuschagne ·

Natuurlik is hy onskuldig. Net soos OJ SImpson ook, en hopelik sal hulle twee ‘n sel saam kan deel en oor die reuse onreg van hul veroordeling en vonnisse uitwei.

Henk du Toit ·

Dese kommentaar te lewer hierop is om jou kop in n byenes te te steek. Enersyds laat ambisie mense enige iets aanvang in die geval vrouens waarskynlik. Andersyds is dit verfoeilik vir enige persoon in n posisie van mag of bevoorregting om homself/ haarself op te dring aan ‘n ander. Synde vreemd op die oor en vreemd op die oordeel dat hierdie getuienis jare na die tyd opduik. Brand die onreg nie die seerste net na die misdaad nie? Soos wat dit vandag ‘n gemenereg misdaad is was onsedelike aanranding, verkragting en poging tot verkragting, ook toe ‘n misdryf. Waarom dan nou die die kleinserigheid? In my pennie se wysheid dink ek dat dit beter is om liefs voor getuies met n vrou te praat en om maar liefs die wortel van die kwaad agter broeklap en gulp te hou. Oudominee reken ook so. Dit sal wel ‘n geneuk afgee as Scarlet Johannson haar gaan ko’ sta’ en opdring aan my. Met moeite sal ek dan maar liefs myself moet verskoon. Die moeder des huize (my se soetlief) is van mening dat die handsambok die erfdeel van n rondloperbrak is, eventwel slegs diè met twee bene.

Survivor ·

Henk Op jou Vraag brand die onreg nie die seerste na die misdaad nie? Ja natuurlik ek sal weet ek was ook n slag offer. Ek verstaan ook nie hoekom mense jare na die tyd eers besluit om daaroor te praat en dan sake oopmaak nie maar wat ek geleer het met my ondervinding en mense wat ek leer ken het oor wat met my gebeur het is dat geen slagoffer ooit dieselfde sal optree nie.

Maria van Riebeeck ·

Hy het my ook probeer verkrag. Op tafelberg in die kabelkar, kan ek ook n paar miljoen dollar kry asb. Dit het in 1652 gebeur. Jammer ek kla nou eers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.