Hawaii: ‘Noodsirenes sou niks help’

(Foto: Patrick T. Fallon/AFP)

Amptenare van Hawaii wat fel gekritiseer is vir die gebrek aan waarskuwing toe ʼn dodelike veldbrand verlede week deur die kusdorpie Lahaina gewoed het, hou vol die dorpie se noodsirenes sou waarskynlik geen verskil aan die situasie gemaak het nie.

Minstens 110 mense is dood toe die veldbrand die dorp, op die eiland Maui, verlede Dinsdag in puin gelos het. Sommige inwoners was op dié dag salig onbewus van enige gevaar tot hulle self die vlamme gewaar het. Teen daardie tyd was dit vir sommige te laat.

Die hoof van Maui se noodbestuursagentskap, wat ʼn netwerk van 80 sirenes bedryf, het Woensdag die agentskap se besluit verdedig om nie daardie dag die sirenes te aktiveer nie.

“Die sirenes word hoofsaaklik vir tsoenami’s gebruik. Die publiek word opgelei om hoër grond te soek in die geval dat ’n sirene weerklink,” het Herman Andaya tydens ʼn mediakonferensie gesê.

“Indien ons daardie aand die sirene laat klink het, het ons gevrees dat mense [die heuwels in] … in die vlamme in sou vlug.”

Oorlewendes is egter bitter ongelukkig omdat daar geen amptelike waarskuwings was nie. Die selfoonnetwerk was in daardie stadium weens die brand buite werking en die kragtoevoer is afgesny.

Andaya het egter Woensdag bevraagteken of enigiemand die sirenes se 121-desibel-waarskuwing sou hoor; ʼn vlak wat volgens die Amerikaanse Akademie vir Oudiologie gelykstaande is aan ʼn straler wat opstyg.

“Baie mense wat binnenshuis is, wie se lugversorging dalk aangeskakel is, gaan nie die sirene hoor nie … Plus, die winde was baie sterk [daardie dag] … dit het baie geraas, so hulle sou nie die sirenes gehoor het nie.”

Op die vraag oor of hy spyt is oor die besluit om nie die noodsirenes te aktiveer nie, het die hoof van Maui se noodbestuursagentskap geantwoord: “Ek is nie.”

Hawaii se goewerneur, Josh Green, het verlede week ʼn ondersoek na die gebeure voor, tydens en ná die tragedie gelas om te bepaal of enige lesse geleer kan word.

Daar word intussen nog onverpoos na menslike oorskot in die puin van Lahaina gesoek. Green het vroeër gesê dit is onvermydelik dat die dodetal verder sal styg.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die tragedie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Ek wonder dan of die Amptenare ook hulle Famielie en Vriende ook nie gewaarsku het nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.