Hef aan lê nog voor in stormgeteisterde VSA

Inwoner van Kinston, Noord-Carolina, loop deur kniehoogte-water nadat die Newportrivier weens Orkaan Florence oorstroom het. FOTO: Dpa-Images

Die dodetal in die tropiese depressie Florence wat verwoesting in die Suide van die VSA saai, het tot 17 gestyg.

Die dagblad USA Today berig in Noord-Carolina is meer as 100 paaie gesluit en amper 500 000 inwoners se kragvoorsiening afgesny nadat sowat 760 mm sedert verlede week oor dele van die deelstaat uitgesak het.

Gedwonge ontruiming staar tienduisende mense langs die staat se vinnig stygende rivier in die gesig, terwyl duisende veiligheid soek in 100 skuilings dwarsoor die staat.

Intussen berig die New York Times dié tropiese depressie, wat as ʼn orkaan begin en toe tot ʼn tropiese storm verswak het, saai verwoesting oor ʼn afstand van sowat 800 km.

Noord-Carolina se goewerneur, Roy Cooper, het inwoners van die staat gewaarsku om op hul hoede te wees vir skielike oorstromings, aangesien niemand op die oomblik gerus kan wees nie.

Vloedwaters het die kusstad Wilmington in Noord-Carolina van die buitewêreld afgesny, berig die BBC, waar 400 mense uit die water gered moes word. Die meeste van die stad se 120 000 inwoners is sonder kragtoevoer.

Die Nasionale Weerdiens waarsku teen minstens nog twee dae van moontlike kitsoorstromings voor die toestande kan begin verbeter.

Etlike paaie in die stad is nog gangbaar vir inwoners, maar ʼn aanklokreël is ingestel nadat vyf verdagtes aangekeer is wat glo Saterdag ʼn winkel in die stad geplunder het.

Florence het Maandagmiddag (SA tyd) verswak tot ʼn tropiese depressie met windspoed van sowat 45 km/h. Weens reënval van tot 1 000 mm oor dele van Suid- en Noord-Carolina sedert Donderdag waarsku beamptes dat riviervlakke in sommige gebiede selfs verder kan styg.

Die owerheid het etlike waarskuwings van tornado’s in dele van Noord-Carolina uitgereik, waarvan een reeds skade aan geboue op die dorp Elm City aangerig het. Intussen bestaan die gevaar van grondstortings sodra die weerstelsel die bergagtige dele bereik.

In Suid-Carolina het die deelstaat se noodbestuursafdeling inwoners gewaarsku om waaksaam te bly. “Dis nog nie verby nie. Hoegenaamd nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.