‘Heilige Woude’ kan klimaatsverandering bekamp

(Foto: Verskaf)

ʼn Span internasionale wetenskaplikes het bevind dat die sogenaamde “Heilige Woude” in Togo in Wes-Afrika, ʼn uiters belangrike rol in die berging van koolstof speel wat moontlik kan help om die uitwerking van klimaatsverandering teen te werk.

Dié woude word glo vir godsdienstige doeleindes gebruik en dit word geglo dat hulle deur voorvaders bewoon en beskerm word.

“Ons studie het getoon dat grond in hierdie woude ten minste 8,64 ton anorganiese koolstof per hektaar bewaar. In reële terme praat ons van ʼn oppervlakte so groot soos ʼn rugbyveld wat al die koolsuurgas verwyder het wat deur ʼn kragstasie, wat 15,8 ton steenkool verbrand, vrygestel word,” sê dr. Michele Francis, een van die navorsers van die departement grondkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Francis het die navorsingstudie saam met dr. Hafeez Rehman van Noorweë, prof. Rosa Poch van Spanje en Fabio Scarciglia van Italië onderneem.

Volgens die span is anorganiese koolstof ʼn belangrike koolstofsink omdat die koolstof permanent in minerale vorm weggesluit is, teenoor koolstof wat uit organiese materiaal soos blare-afval en humus verkry word.

“Die organiese materiaal ontbind en stel die koolstof weer in die atmosfeer as koolsuurgas vry, tensy daar ʼn stap tussenin is wat in staat is om die koolstof vas te vang en permanent te berg, soos in die grond van die Heilige Woude.”

Francis sê dat die minerale vorm van die anorganiese koolstof in die grond bly danksy die droë aard van die gebied. Op die lange duur sal dit ʼn belangrike vorm van koolsuurberging wees.

Daar is ook ʼn groot moontlikheid vir die ontwikkeling van grond in die gebied ten opsigte van landbou en vir die moontlike afsondering van koolstof wat van toepassing is op wêreldwye veranderingsbeleide.

“Dit is fundamenteel om hierdie natuurlike prosesse te verstaan sodat grondbestuurspraktyke inwerking gestel kan word. Dié praktyke kan tot die afsondering van koolstof en die verbetering van die grondgehaltestatus in die streek, en moontlik ook in ander lande met ʼn soortgelyke klimaat, lei.”

“Dit is veral belangrik in gebiede waar hierdie woude al hoe skaarser en meer gefragmenteerd word weens bevolkingsgroei, uitbreiding van geboue, die bou van paaie en die erosie van tradisionele godsdienstige praktyke,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Uitstekende idee rondom ons steenkoolkragsentrales asook nywerhede..die nuwe normaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.