Hele wêreld asem vrot lug in

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Ella Ivanescu/Unsplash)

Altesaam 99% van mense op aarde asem lug in wat te veel besoedelingstowwe bevat en dit is moontlik die oorsaak van miljoene sterftes jaarliks.

Só het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Maandag in ʼn verslag oor die wêreld se luggehalte bekendgemaak. Die WGO se studie verskaf data oor die luggehalte van meer as 6 000 stede en dorpe in altesaam 117 lande oor die hele wêreld.

Die organisasie sê sy verslag se bevindinge is kommerwekkend en hy het opnuut klem daarop gelê dat die gebruik van fossielbrandstowwe beperk moet word.

Die WGO dui in die verslag aan dat byna die hele wêreldbevolking (99%) lug inasem wat die organisasie se luggehalteperke oorskry en gevolglik menslike gesondheid negatief kan beïnvloed. Die probleem blyk wel erger in armer lande te wees.

In sy vorige verslag wat vier jaar gelede bekendgestel is, het die WGO reeds bevind dat meer as 90% van die wêreldbevolking deur lugbesoedeling geraak word, maar die organisasie het sedertdien strenger riglyne vir aanvaarbare vlakke van besoedeling daargestel.

“Die bewysebasis vir die skade wat deur lugbesoedeling veroorsaak word, het vinnig toegeneem en dui op aansienlike skade wat veroorsaak word deur selfs lae vlakke van lugbesoedeling,” het die WGO gesê.

Omgewingsvriendelike energiestelsels

Die WGO se hoof, Tedros Adhanom Ghebreyesus, het beklemtoon dat kommer oor die stygende energiepryse, deels weens Rusland se inval in Oekraïne, moet help om verandering aan energiestelsels te dryf.

“Huidige energiebekommernisse beklemtoon die belangrikheid daarvan om die oorgang na skoner, gesonder energiestelsels te bespoedig,” het hy in ʼn verklaring gesê.

“Hoë fossielbrandstofpryse, energiesekerheid en die dringendheid om die dubbele gesondheidsuitdagings van lugbesoedeling en klimaatsverandering aan te pak, beklemtoon die dringende behoefte om vinniger te beweeg na ʼn wêreld wat baie minder van fossielbrandstowwe afhanklik is.”

Die WGO se verslag verskaf data oor konsentrasies van gevaarlike besoedelingspartikels met ʼn deursnee van tussen 2,5 en 10 mikrometer (PM10) en partikels met ʼn deursnee van minder as 2,5 mikrometer (PM2,5).

Partikels met ʼn deursnee van minder as 2,5 mikrometer sluit gifstowwe soos sulfaat en swart koolstof in, wat die grootste gesondheidsrisiko’s inhou, aangesien dit diep in die longe of kardiovaskulêre stelsel kan binnedring.

Die verslag verskaf ook vir die eerste keer die grondmetings van jaarlikse gemiddelde konsentrasies stikstofdioksied (NO2), ʼn algemene stedelike besoedeling, wat verbind word met respiratoriese siektes, soos asma. Daar is bevind dat die lug in die meeste stede ʼn oormaat stikstofdioksied het.

Terwyl die lug in 17% van stede in hoë-inkomstelande onder die WGO se luggehalteriglyne vir PM2,5 of PM10 geval het, het minder as 1% van stede in lae- en middel-inkomstelande aan die aanbevole drempels voldoen, lui die verslag.

Uit die sowat 4 000 stede in 74 lande waar NO2-data ingesamel is, het metings getoon dat slegs 23% van mense jaarlikse gemiddelde konsentrasies van die gas inasem wat aan die vlakke in die WGO se onlangs bygewerkte riglyne voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

voor ek vergeet ... ·

As ek ‘WGO’ sien, lees ek: Minder vryheid. Meer regulering. Hoër koste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.