Helikopterongeluk eis nóg ʼn countrysanger  

Troy Gentry (Foto: Owen Sweeney/Invision/AP)

Die Amerikaanse countrysanger Troy Gentry (50), lid van die groep Montgomery Gentry, is Vrydag in ʼn helikopter-ongeluk dood.

Die musiekgroep het dié nuus in ʼn verklaring op Facebook bevestig.

Volgens die verklaring het die ongeluk Vrydag net ná 13:00 in New Jersey plaasgevind. Montgomery Gentry, waarvan Eddie Montgomery die ander lid is, was glo veronderstel om Saterdagaand ʼn vertoning in New Jersey te lewer.

Dié nuus volg kort nadat die legendariese Amerikaanse countrysanger Don Williams ook Vrydag ná ʼn kort siekbed in sy huis in Alabama dood is.

Volgens The Daily Mail het die helikopter waarin die sanger gevlieg het etlike minute in die lug “gehang” voordat dit neergeploeg het.

Joel Bewley, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het rondom 13:00 ʼn noodoproep gekry wat gesê het die helikopter meganiese probleme ondervind.

In ʼn 911-noodoproep kan glo gehoor word hoe die vlieënier vra dat nooddienste en ʼn ambulans na die toneel geroep word voordat hy gaan poog om ʼn noodlanding te maak.

Nooddienste moes Gentry met behulp van meganiese toerusting uit die wrak bevry, maar hy is op pad na die hospitaal dood verklaar. Die vlieënier is ook op die toneel dood.

Die sanger laat sy vrou, Angie, en twee dogters, Kaylee en Taylor, agter.

‘n Foto van die toneel (Foto: NBC10 via AP)

‘n Foto van die toneel (Foto: NBC10 via AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marianne ·

Aaag nee my swakke hart….
The good die young, their music live forever.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.