Hells Angels-stigter Sonny Barger sterf op 83

Sonny Barger (Foto: Sonny Barger/Facebook)

Sonny Barger, stigterslid van die Hells Angels-motorfietsklub wat dekades lank die gesig was van die berugte motorfietsbende, is in die ouderdom van 83 oorlede, aldus sy Facebook-blad.

Met hul leerbaadjies en die gebrul van enjins wanneer hulle in groepe rondgery het, was die Hells Angels jare lank die simbool – ʼn vreesaanjaende simbool vir sommige – van ʼn kontrakultuur leefstyl.

Barger het die, nou internasionale, motorfietsklub se oorspronklike groep in 1957 in Oakland, Kalifornië tot stand gebring.

Ná groepe van die klub reg oor die VSA begin is, en omstredenheid rondom die groep se aktiwiteite toegeneem het, het Barger as ʼn woordvoerder vir die groep opgetree en hul voëlvryverklaarde leefstyl verdedig.

Barger was teenwoordig by ʼn berugte 1969 Rolling Stones-konsert in Kalifornië waar die Hells Angels as sekuriteit gehuur is. Hulle het hul motorfietse as ʼn versperring gebruik voor die verhoog.

Die oproerige byeenkoms by die Altamont Speedway het tot die dood van Meredith Hunter gelei. Hy is deur lede van die Hells Angels aangerand en met ʼn skerp voorwerp vermoor ná hy ʼn vuurwapen naby die verhoog te voorskyn gebring het.

Die motorfietsbende het in daardie stadium reeds popkultuur betree as ʼn rowwe broederskap deur flieks soos Hells Angels on Wheels (1967) met Jack Nicholson en ʼn indiepte profiel deur verslaggewer Hunter S. Thompson, wat ʼn jaar lank saam met die groep gebly het.

Nederland het in 2019 die eerste land geword wat die Hells Angels landswyd verbied het en gesê die groep het “ʼn kultuur van wetteloosheid” en is “ʼn bedreiging vir openbare orde”.

Met verskeie vuurwapen- en wapenaanklagte en ʼn skuldigbevinding in 1988 vir sameswering om moord te pleeg op ander bendelede, het Barger meer as 10 jaar van sy lewe agter tralies deurgebring, aldus The Washington Post.

Barger het ʼn paar keer in flieks verskyn, insluitend die 1967 Hells Angels-fliek, en het ook as ʼn konsultant gewerk op verskeie motorfietsverwante projekte.

Hy was onlangs te sien as die karakter Lenny “The Pimp” Janowitz in die TV-reeks Sons of Anarchy oor ʼn fiktiewe motorfietsgroep.

Barger het verskeie boeke en memoires geskryf oor die motorfietsbende-leefstyl, insluitend ʼn topverkoper outobiografie.

“Hy slim en hy slinks, hy het die sluheid van ʼn tipe wilde dier,” het Thompson aan The Washington Post in 2000 gesê.

Barger se stembande is later in sy lewe verwyder weens keelkanker. Hy het ʼn elektroniese toestel gebruik om mee te praat.

“As julle dié boodskap lees, sal julle weet ek is weg,” lui ʼn inskrywing Donderdag op sy Facebook-blad met besonderhede dat hy oorlede is ná ʼn stryd met kanker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LeanetteS ·

Liewe Maroela, Meredith Hunter, was manlik, n swart jongman … so bewoording moet lees… HY in plaas van sy, in reel…..’

Sy is deur lede van die Hells Angels aangerand en met ʼn skerp voorwerp vermoor ná sy ʼn vuurwapen naby die verhoog te voorskyn gebring het.’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.