Herrie oor jong Russiese skaatser woed voort

Rusland se Kamila Valieva, wat in ‘n opkikkerherrie gedompel is, tydens ‘n oefening by die Winterspele in Beijing. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Daar sal geen medaljeseremonie ná die vroue se individuele sierskaatskompetisie by die Olimpiese Winterspele in Beijing wees as Rusland se Kamila Valieva in die topdrie eindig nie.

Daar sal ook steeds geen seremonie ná die spanitem, wat Rusland verlede week danksy die 15-jarige Valieva se stervertoning gewen het, wees nie.

Die jong Rus is die gunsteling om die individuele item, wat Dinsdag begin, te wen. ʼn Herrie woed egter nadat sy in Desember positief vir ʼn verbode middel getoets het. Die hof vir arbitrasie in sport het Maandag beslis die tiener mag haar deelname aan die Spele voortsit, ten spyte van die uitslag van die opkikkertoets.

Die hof het “buitengewone omstandighede” vir sy besluit aangevoer, onder meer haar jong ouderdom, en sê ʼn skorsing sou onder die omstandighede onherstelbare skade aangerig het. Sy is egter steeds nie heeltemal uit die moeilikheid nie en sanksies kan haar later in die gesig staar.

“Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het die oppergesag van die reg gevolg en sal haar dus toelaat om aan die vroue se individuele skaatskompetisie deel te neem,” lui ʼn verklaring van die IOK.

“In die belang van billikheid teenoor alle atlete”, sal dit in die lig van Valieva se opkikkertoets egter nie gepas wees om ʼn medaljeseremonie vir die sierskaatsspanitem by die Spele te hou nie, sê die komitee.

Rusland het die besluit verwelkom dat Valiea verder mag deelneem. “Die hele land sal haar en al ons wonderlike vroueskaatsers in die individuele item môre ondersteun,” het Rusland se Olimpiese komitee op Telegram gesê.

Kamila Valieva het verlede week ‘n goue medalje by die Winterspele in Beijing verower, maar geen medaljeseremonie is nog gehou nie. Valieva het vroeër positief vir ‘n verbode middel getoets. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Dmitry Peskov, woordvoerder van die Kremlin, sê hy is “gelukkig” dat die 15-jarige aan die item, waarin sy ʼn gunsteling is om met ʼn goue medalje weg te stap, kan deelneem. “Die hele land hoop Kamila wen,” het Peskov aan verslaggewers gesê.

Rusland hoop steeds dat die medalje vir die spanitem binnekort oorhandig sal word.

Daar is reeds sanksies teen Rusland vir ʼn enorme staatsgeborgde opkikkerprogram wat by die Winterspele in Sochi in 2014 ʼn hoogtepunt bereik het. Russiese atlete kan as neutrale deelnemers deelneem – sonder die Russiese vlag of volkslied – gegewe dat hulle kan bewys dat hul opkikkergeskiedenis skoon is.

Die jong skaatser was ʼn week gelede die eerste vrou wat ʼn viervoudige sprong by die Olimpiese Spele kon vermag en het die Russe daarmee tot goud in die sierskaatsspanitem gelei. Die medaljeseremonie daarvoor het ʼn dag later egter nie plaasgevind nie, die eerste aanduiding dat daar ʼn slang in die gras is.

Daar was berigte dat Valieva positief vir ʼn verbode middel getoets het en ʼn dag later is sy agter geslote deure deur Rusland se teenopkikkeragentskap (Rusada) geskors. Sy het suksesvol appèl aangeteken teen haar skorsing en dit is dieselfde dag nog opgehef.

Valieva het haar oefening verlede week te midde van die herrie voortgesit, waarna die IOK onsuksesvol appèl aangeteken het teen Rusada se besluit om haar skorsing op te hef. Die jong skaatser het voor die omstredenheid bykans onstuitbaar in haar opgang gelyk en het elke groot byeenkoms waaraan sy in die 2021-’22-seisoen deelgeneem het, gewen. Haar vermoë om die moeilikste landing klaarblyklik moeiteloos reg te kry, word geëwenaar deur ʼn talent vir ʼn passievolle vertoning en die grasie van ʼn ballerina.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Ek wonder soms of hulle nie te streng is t.o.v. die opkikkers nie. Selfs sommige medikasie vir ADHD pasiente byvoorbeeld, kan tel as opkikkers. Watse ernstige opkikkers kan ‘n 15 jarige dan op wees?

annie ·

Lees gerus 1984. Dit is gratis op Project Gutenberg… Tensy die VSA hul handleiding onttrek het weens die ooglopende ooreenkoms met die huidige gebeure op die Russiese grens. Die vreemde gruwelverhaal speel af onder die pretensie dat die Russe ter enigertyd die Weste gaan binneval…

Miena ·

So – Positiewe uitslag vir opkikker wat geneem is vir n deelnemer (ongeag ouderdom of ras) – die Olimpiese Komitee se – Gaan maar aan, neem deel, verteenwoordig jou land. En dan nr 2 – Geen opkikkers geneem – dis n natuurlike gene en chromosome waarmee sy gebore is (Ja dit is ons Caster); die Olimpiese Komitee se – Jy moet van nou af hierdie tipe medikasie gebruik en jy moet daardie tipe inspuiting neem alvorens jy mag deelneem en jou land mag verteenwoordig… ek meen my aarde mens. Ek sukkel so bietjie om my kop rondom hierdie argument te kry – al het ek n BA- Health graad. Indien ek verkeerd verstaan of die hele pot mis sit help my reg asb. Maar op die einde is dit soos – Jy is of swanger of nie swanger nie. Nie amper nie.

Marthinus W ·

Rusland is uit sport geskop na n dokkie van die joernalis Hajo Seppelt op Duitse TV. In n onderhoud met n Nederlandse joernalis erken Seppelt, “There are a lot of other countries that should be surveyed, but I will not tell you that, because I don’t want to wrong them…” Dan seg hy met n skalkse glimlag, “Zoals u kunt begrypen, wil ik geen slapende honden wakker maken”. Herman Ram, Nederland se “doping outoriteit” het gelag, en gese hy gee glad nie om as Rusland uitgeskop word nie. Toe die joernalis hom vra waarom hy daaroor lag, was hy half verskonend. In n Nederlandse koerant het die atleet Yvonne Hak gehuil, “Mijn zilver had goud moeten zijn”. [Een Vandaag, BVN op DStv, 10 November 2015]
Met ander woorde: ander lande is ook skuldig, hierdie is oorlog op Rusland. En dis jammer dat sport en atlete so deur geld en politiek verrot is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.