Herstelwerk by Kolosseum kry groen lig

Mense stap in Desember 2020 buite die Kolosseum in Rome, Italië, ná ‘n reënbui. (Foto: Alberto Pizzoli/AFP)

Dario Franceschini, die Italiaanse minister van kultuur, het Sondag aangekondig dat ʼn maatskappy aangewys is om onder meer die vloer in die arena van die wêreldbekende Kolosseum in Rome te herstel.

Dié 2 000 jaar oue struktuur is tans vloerloos, met die bouval van die mure en tonnels van die ondergrondse vlak – met die uitsondering van ʼn klein platform – wat blootgestel is aan die opelug.

ʼn Milanese ingenieursfirma het tien mededingers uitgestof wat verlede jaar aansoek gedoen het om onder meer te voldoen aan die visie vir roterende houtlatte, wat natuurlike lig en ventilasie in die onderste vlakke sal moontlik maak.

“Dit is nog ʼn stap vorentoe in die herstel van die arena; ʼn ambisieuse projek wat sal bydra tot die bewaring van die argeologiese struktuur terwyl dit herstel word na die oorspronklike beeld van die Kolosseum en 0,” het kultuurminister Dario Franceschini gesê.

Met die nuwe vloer sal besoekers die monument van die middel van die arena af kan aanskou – ʼn uitsig wat eens net vir swaardvegters (gladiators) en slawe beskore was.

Die Kolosseum in Rome, Italië in Februarie 2021. (Foto: Vincenzo Pinto/AFP)

Franceschini beplan om die G20-kultuurberaad in Julie by die Kolosseum in Rome aan te bied en dit kan ook dien as ʼn bymekaarkomplek vir ander groot kulturele geleenthede.

Alfonsina Russo, uitvoerende argeoloog by die Kolosseum, het gesê bouwerk by die arena sal na verwagting aan die einde van vanjaar of vroeg volgende jaar afskop.

Volgens Russo sal die nuwe vloer van 3 000 m² in 2023 gereed wees vir besoekers. Voor die Covid-19-pandemie het sowat 25 000 mense daagliks dié wêreldbekende monument besoek en sowat €18,5 miljoen is geoormerk vir die projek.

Die planne wat Sondag voorgelê is, bevat ʼn verwyderbare struktuur wat bestaan uit Accoya-hout, ʼn gemodifiseerde, duursame materiaal.

Die latte sal opgerig word met ʼn rotasiestelsel wat bedoel is om lig en lug te sirkuleer na die ondergrondse gange.

Die reënwater wat tans in poele daar opgevang is, sal aangewend word vir water vir die toilette by die monument.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Maar gaan toerisme soos in die jare voor Corona em inperking dan terugkom? Die indruk wat ek kry is dat die inperkingslewe saam met corona die nuwe permanente normaal is. Maskers, handreiniger, geen toerisme, geen kunstefeeste em en en: geen van ‘n klomp goed wat voor Corona heel normaal was. En let wel, permanent is wat dit is: permanent, ad infinitum, tot in ewigheid.
Dié nuwe wêreldorde lyk maar baie saai vir my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.