Hewige sneeustorms in Spanje eis 3

(Foto: Gabriel BOUYS / AFP)

Minstens drie mense is dood weens hewige sneeustorms in groot dele van Spanje.

Die Spaanse hoofstad Madrid het Vrydag sy swaarste sneeuval sedert 1971 beleef ná wat die AEMET-weeragentskap beskryf het as “buitengewone en waarskynlik historiese” toestande wat deur storm Filomena veroorsaak word.

Die weeragentskap het gewaarsku dat nog 20 cm sneeu Saterdag in Madrid sou val met tot 50 cm op hoër hoogtes.

Nog vier streke is intussen weens die buitengewone weerstoestande op ʼn rooi gereedheidsgrondslag geplaas waaronder Aragon, Valencia, Castilla-La Mancha en Katalonië.

(Foto: Gabriel BOUYS / AFP)

Die Spaanse premier Pedro Sánchez het op Twitter ʼn beroep op mense gedoen om binnenshuis te bly en die nooddienste se opdragte te volg. Die premier het hulde gebring aan die land se reddingsdienste wat reeds honderde mense te hulp moes snel nadat hulle in die sneeu vasgeval het.

Die motoris Patricia Manzanares vertel dat sy 15 uur sonder kos op die M-40-snelweg in die Madrid-streek gestrand sit. “Daar is baie van ons in hierdie situasie. Die sneeu lê 60 cm dik en ons gaan binnekort nie meer petrol oorhê nie. Ons motors se verhitting gaan dan nie meer werk nie.”

Owerhede in Madrid het dié stad se parke gesluit en alle busdienste en vullisinsameling gestaak weens die swaar sneeuval. Die stad se weermag het intussen ingespring om sneeu uit die stad se strate te skep en sommige mense uit hul motors te red.

José Luis Martínez-Almeida, die burgemeester van Madrid, het die situasie Saterdag in ʼn twiet as “uiters ernstig” beskryf.

Skole en universiteite in en om Madrid sal Maandag en Dinsdag gesluit wees, het die president van die streek, Isabel Díaz Ayuso, gesê.

(Foto: OSCAR DEL POZO / AFP)

(Foto: OSCAR DEL POZO / AFP)

(Foto: BOUYS / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.