Hier is prins Harry en Meghan Markle se gevolg

Prins Harry en Meghan Markle (Foto: Xinhua)

Die Kensington-paleis het Maandag prins Harry en Meghan Markle se gevolg by hul huweliksbevestiging dié naweek bekendgemaak, en uit dié aankondiging blyk dit dat die paartjie tog wél erkenning gaan gee aan etlike Britse koninklike tradisies.

Die media bespiegel al sedert die paartjie se verlowing in November verlede jaar oor watter bekendes of naasbestaandes moontlik deel van die gevolg sal wees.

Gerugte het op ʼn tyd die ronde gedoen dat die tennisster Serena Williams en die aktrise Priyanka Chopra, albei goeie vriendinne van Markle, moontlik strooimeisies sou wees. Albei partye het later in die media ontken dat hulle op só ʼn wyse by die koninklike troue betrokke gaan wees.

Dié bespiegelinge het hul oorsprong in die feit dat Markle ʼn Amerikaanse aktrise is waar die tradisie bestaan dat ʼn bruid se beste vriendinne of susters deel van die gevolg uitmaak. Dit is egter al sedert koningin Elizabeth II se troue ʼn Britse tradisie dat kinders – vriende en familie van die koninklikes – deel van die gevolg is.

Harry en Meghan het intussen ook besluit om by dié tradisie te hou. Meghan se blommemeisies is prinses Charlotte (3) van Cambridge, dogter van prins William en Catherine, die hertogin van Cambridge; Florence van Cutsem (3), peetdogter van prins Harry en dogter van maj. Nicholas en Alice van Cutsem, vriende van die koninklike familie; Remie Litt (6), Markle se peetdogter en dogter van Darren en Benita Litt, vriende van Markle; Rylan Litt (7), nog ʼn peetdogter van Markle en Remie se suster; Ivy Mulroney (4), dogter van Benedict Mulroney, ʼn televisie-aanbieder en vriende van Markle; en Zalie Warren (2), nog ʼn peetdogter van prins Harry en dogter van Jake en Zoe Warren, vriende van die koninklike familie.

Daar sal ook geen van Harry se naby vriende in sy gevolg wees nie, behalwe prins William, sy broer, wat saam met hom voor die kansel sal staan. Harry was ook die strooijonker op William en Kate se troue in 2011.

Harry se hofknapies is prins George van Cambridge (4), die oudste seun van prins William en Kate; Jasper Dyer (6), ʼn peetkind van Harry en seun van Mark en Amanda Dyer, sleutelfigure in Harry se lewe sedert hy ʼn jong seun was; en Brian en John Mulroney (albei 7), seuns van Benedict en Jessica Mulroney.

Prins William en prins Harry (AP Photo/Pool)

Die Amerikaanse tydskrif People berig daar was heelwat besprekings op sosiale media of Harry en Markle Britse tradisies sou onderhou aangesien die paartjie reeds talle tradisies verbreek het. Die paartjie se huwelik sal die eerste veelrassige Britse koninklike huwelik in die geskiedenis wees. Markle was ook voorheen getroud.

Sy het by geleentheid opgemerk: “Dis teleurstellend en ʼn jammerte dat die wêreld so baie op ras fokus. Aan die einde van die dag is ek trots op wie ek is. In my verhouding het ons nog nooit daarop gefokus nie – ons fokus eerder op wie ons as ʼn paartjie is.”

Die paartjie het egter by verskeie geleenthede gesê hulle voel nie noodwendig so sterk oor tradisie soos hul oor mekaar voel nie.

Intussen het Markle se pa, Thomas, vroeër die week bekendgemaak dat hy nié die koninklike troue gaan bywoon nie. Hy het glo besluit om nié die troue by te woon nie nadat dit aan die lig gekom het dat hy onlangs ingestem het om vir paparazzi-foto’s te poseer wat dit laat voorkom het asof hy voorbereidings vir sy dogter se troue tref.

Thomas het bevestig dat hy nog herstel nadat hy verlede week ʼn hartaanval gehad het – glo veroorsaak deur die poniepers se beriggewing wat hom die afgelope paar weke voor die troue in ʼn swak lig gestel het. Dít nadat die poniepers hom gehamer het oor onder meer sy gewig en sy verhouding met Markle. Hy het gesê hy het besluit om die koninklike troue mis te loop sodat hy nie “die koninklike familie of sy eie dogter verder verneder nie”.

Lees meer oor die paartjie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dr H ·

Haha. Kleuterskool. Hoeveel ma’s gaan moet saamstap om hierdie sirkussie onder beheer te hou?

ek sê maar ook ·

Weet nou nie – ek sou sê die klomp kleintjies is eerder blommemeisies as strooimeisies. Strooimeisies is tog daar om bruid by te staan, ruiker te neem as ringe aangesit word ens.

Ans ·

Stem saam. Ons noem altyd dogtertjies blommemeisietjies. Strooimeisies is gewoonlik jong dames wat die bruid bystaan met sluier, ruiker en so meer.

foxi ·

Ag almal het suurdruiwe. Ek dink dit gaan pragtig wees. Kan net nie wag om dit te sien nie!
Ek gaan beslis die baas wees van oupa se leunstoel, groot skerm tv en die ‘remote’.
Basta met rugby saterdag!!??

Nici ·

Sê ek mos ook Foxi. Ai as die mense nie belangstel nie, is daar ‘n naweek propvol sport wat hulle kan besig hou. Maar dit is mos tipies ‘ons mense’ wat tog nie die son oor ander wil laat skyn nie!!!

Laat ek dink ·

Laat ek dink, my beeldradio (Tiewie) is buite werking seker al vir 10 weke. So tel my uit vir Saterdag.

**anoniem** ·

@Amelia, sy is basies ‘n kleurling. Haar pa is ‘n witman en haar ma ‘n swart dame. Dit maak haar veelrassig (2 rasse = veelrassig)

Stephen Namibia ·

Die “hartaanval” is net n rookskerm om die kritiek rondom sy foto eskapades te reflekteer.
Ek sien n disfunksionele familie. Hou hierdie spasie dop.

Andre ·

Die vrou se eie broer se die prins maak `n groot fout om haar te trou, plus sy was al van tevore getroud. Dit voorspel net moeilikheid, en dit is duidelik hoekom sy met hom trou. Ek glo hierdie sal in a slegte publieke egskeiding eindig.

Jo-Anne ·

Die britte het ander tradiesies as ons. Dalk is strooimeisie en blimme meisie dieselle ding.
Sy kom van n gemengde ras familie. Ek was ook verbaas toe ek dit hoor. Maar maak seker nie saak nie. As die twee goed is vir mekaar en die ouma haar blessing gegee het, het niemand niks seker tesê nie.
Ek het nie n tv nie, al jare nie, kyk alles wat ek wil op die rekenaar, hoop daar sal iewers n live stream wees. Ek het destyds met Will en Kate se troue siek gespeel en heeldag voor die tv gesit. Ek weet vir baie is dit vervelig en het hulle geen belangstelling nie. Maar ek love sulke goed. Baie geintreseerd in die koninglikes en al sulke dinge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.