Hierdie is die lekkerste stede om in te woon

Wene in Oostenryk. Argieffoto: Pixabay.com

In watter stad ter wêreld is dit die heel lekkerste om te woon?

Dít is die vraag wat die Economist Intelligence Unit, ʼn navorsingsinstelling verbonde aan The Economist, jaarliks beantwoord wanneer sy Global Liveability Index uitgereik word. Dié studie oorweeg ʼn reeks lewensomstandighede in 140 stede wêreldwyd om dan te bepaal waar inwoners as’t ware die lekkerste woon.

Aspekte wat oorweeg word sluit onder meer in die voorkoms van geweldsmisdaad, die bedreiging deur terreur, die voorkoms van burgerlike onrus, beskikbaarheid en kwaliteit van private en openbare gesondheidsorg, beskikbaarheid van medisyne, vlak van korrupsie, vlak van sensorskap, kos en drank, klimaat en temperatuur, gehalte en beskikbaarheid van onderrig, asook beskikbaarheid en gehalte van behuising, paaie, water, elektrisiteit en telekommunikasie.

Melbourne in Australië het al die afgelope sewe jaar koning gekraai as die lekkerste stad om in te woon, maar is vanjaar van die wennerspodium afgedruk deur Wene in Oostenryk.

Volgens die studie het Melbourne en Wene se “leefbaarheid” oor die afgelope ses maande verbeter, maar Wene het tot só ʼn mate verbeter dat hy Melbourne verbygesteek het. Wene is nou in die eerste plek met ʼn telling van 99,1 uit 100, teenoor Melbourne met ʼn telling van 98,4.

Twee ander Australiese stede beklee ook top-posisies: Sydney in die vyfde plek en Adelaide in die tiende plek.

Slegs nog een Europese stad het die top-tien gehaal – Kopenhagen in Denemarke beklee die negende posisie op die lys. Die res van die tien stede is Osaka in Japan (derde), Calgary in Kanada (vierde), Vancouver in Kanada (sesde), Toronto in Kanada en Tokio in Japan (gesamentlik in sewende plek).

Melbourne, Australië. Foto: Pixabay

Verbetering in Osaka se kwaliteit en beskikbaarheid van openbare vervoer, asook ʼn bestendige afname in misdaad het daartoe bygedra dat dié stad vanjaar ʼn hoër telling aangeteken het.

Volgens navorsers daal sommige stede se tellings nie noodwendig oor die stad self nie, maar eerder oor ʼn afname in stabiliteit en veiligheid in die gebied. Stede in Europa is byvoorbeeld die afgelope jaar geaffekteer deur ʼn groter waargeneemde risiko vir terreur, wat veroorsaak het dat veiligheidsmaatreëls in talle stede aansienlik opgeskerp is.

Die vyf stede wat oor die afgelope vyf jaar die meeste verbetering getoon het, volgens die leefbaarheidsindeks, is Abidjan in die Ivoorkus, Hanoi in Viëtnam, Belgrado in Serwië, Tehran in Iran en Ho Chi Minh in Viëtnam.

Daarenteen is die stede wat oor die afgelope vyf jaar die meeste gedaal het op die leefbaarheidsindeks Kiëf in die Oekraïne, San Juan in Puerto Rico, Damaskus in Sirië, Caracas in Venezuela en Asunción in Paraguay.

New York City beklee die 57ste posisie op die lys, Londen is in die 48ste plek, Parys in Frankryk is 19de, Moskou in Rusland is in 68ste plek en Rio de Janeiro in 88ste plek.

Die tien mees leefbare stede volgens die indeks is:

1Wene, Oostenryk
2Melbourne, Australië
3Osaka, Japan
4Calgary, Kanada
5Sydney, Australië
6Vancouver, Kanada
7Toronto, Kanada en Tokio, Japan (gesamentlik)
9Kopenhagen, Denemarke
10Adelaide, Australië

Die tien stede onder aan die lys is:

140Damaskus, Sirië
139Dhaka, Bangladesj
138Lagos, Nigerië
137Karatsji, Pakistan
136Port Moresby, Papua Nieu-Guinea
135Harare, Zimbabwe
134Tripoli, Libië
133Douala, Kameroen
132Algiers, Algerië
131Dakar, Senegal

Sien die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

Riaan ·

SA stede maak seker die laaste bladsye vol van die totale index.

Siekensat ·

LOL ek het ook daaraan gedink en nee ek is nie pessimisties nie….. Dit is realiteit.

E ·

Geen wonder al ons Afrikaners gaan Australie toe nie, bietjie jaloers. Kanada is net bietjie te koud.

Maar ons bly lief vir ons land!!

Maroela, ek vermoed daar is twee Europese stede in die top tien. Oostenryk en Denemarke is in Europa. Of lees ek die berig verkeerd?

AfOz ·

Maar n moeilike besluit…het vir 3 jaar in Calgary gebly, en bly nou 5 jaar in Melbourne, albei is fantasties! 2jaar in Auckland was ook nie bad nie. Maar is nou goed gevestig in Melbourne. What a country…what a city.

Siener van Melbourne ·

Ek bly al die afgelope 5 jaar in Melbourne en buiten vir die weer is dit baie veelsydig en uiteenlopend wat terrein en vermaak aanbetref. Dis see, laeveld, stad en platteland als binne enkele minute van mekaar. Hiers goeie publieke vervoer en dinge werk. Maar dit verhoed my nie om besorg te wees oor my mense wat in Suid Afrika agter gebly het nie. Ek dink elke dag aan julle. Sterkte.

Pretorianer ·

ek bly in Pretoria Suid AFrika en dit is HORRIBLE hier .. dalk van ons heeltemal van die lys af … EKS BLY VIR JULLE wat so lekker bly, ek smag daarna.

Deon ·

Dan is pretoria nog een van die beste plekke om in SA te bly, dan weet jy hoe dit nou hier gaan.

John ·

Hoe lank het die studie geduur? Blykbaar is dit voltooi voor migrante die erge reiskoors opgedoen het want sake lyk deesdae baie riskant vir rus en vrede in Oostenryk. Die was-gewese ou stad het sy chips gehad, so ook van die ander stede op die lys. Duitsland se draadheinings skiet ook weer flink na 8 dekades op om inkomelinge glo mooi te verwelkom en rustig te laat… inpas. Oppas net met ‘n kamera naby anders staan ‘n paar spoke uit hul grafte op… ‘Achtung!’

SA-DE ·

Ons woon in Franfurt, Duitsland…ons het van Kaapstad af getrek. Die lewe is SO gerieflik en die stad is so rustig – ons was gewoonlik 3ure in die verkeer daagliks. Vat my nou 10min van uit my slaapkamer tot in my kantoor op die 39e vloer. Al is Frankfurt nie in die top 10 nie, glo ek hy is naby daaraan :)

humor ·

SA is nie op die lys nie, want die mense wat die bepalings doen is te bang om die land te besoek. Nee wat ek kies maar vir Askam.

Renier ·

Ek geniet Brisbane meer as Sydney en Melbourne veral die weer. Beautiful one day, perfect the next!

Is dit soos durban ·

Is brisbane soos durban? Of is melbourne meer soos durban?

Cherokee ·

Ek sal ook graag die antwoord op daardie vraag wil hoor, want ek woon in Durban en as ek sou emigreer en na die plek van my keuse, sal dit waarskynlik Brisbane wees.

Gerhard ·

Brisbane se weer is nader aan die van Natal. Melbourne, Sydney en Adelaide is heelwat koeler. Perth weer is naaste aan die Wes-Kaap. Melbourne en Sydney is duur in vergelyking met ander strede. Perth het waarskynlik die beste inkomste teenoor koste verhouding vir meeste beroepe.

kolla ·

Behalwe vir die onvoldoende openbare vervoer, is Kaapstad die beste plek om te bly. En ja ek het al in Engeland, Kanada en Australie gebly. Daai plekke is vrek duur, alles is duur..en volksvreemd veral as jy ‘n Afrikaner is. Ons lewe soos konings in SA dis net die misdaad wat dit in sommige gebiede mislik maak. Sal Kaapstad vir niks verruil nie.

Dankie tog! ·

Ag dankie Vader Kolla! Ek wou nou net spring…. voel nou bietjie beter omdat ek ook ‘n Kapenaar is ??

Cherokee ·

Onnie, gaan kyk op ‘n wêreldkaart en jy sal opmerk dat Kaapstad in Suid Afrika is. Dìt behoort genoeg leidrade te verskaf oor waar Kaapstad op die lys sal wees. Sowat 5 merke onder Durban.

Anoniem ·

@Christa, met al die dinge wat in Suid-Afrika aan die gebeur is dink ek Suid-Afrika hoort nie eens op hierdie lys nie.

VanAfrika ·

Eendag dan gaan moeder Suid Afrika weer skitter. Wag net dat God die puzzle weer skuif. Ons deeltjie lê net nog deurmekaar, sy gaan weer ons land word.

Tobie Klarens ·

Jy bedoel soos Kenia, Tanzanie, Zambie, Zim, Malawi, Angola, Mosambiek—? Ai, laat ek gaan koffie drink saam met my oupa, pous AlfonsoIV

Hennie ·

Nee wat vir die klomp pessimiste sê ek Suid Afrika bly die beste plek!!

Gerrie ·

Beslis. Dis net in SA stede waar ek sonder ‘n lisensie kan motorfiets ry.

kolla ·

Absoluut en alles is spotgoedkoop in vergelyking. Jy kan selfs ‘n bekostigbare huishulp aanstel.

Erick ·

Hennie, ek probeer al vir jare dat naïwiteit as ‘n dodelike dwelm geklassifiseer word. Sterkte!

Mak Muil ·

Ag, dis maar so-so hier in Melbourne. Sukkel om kop bo water te hou. Ek MOET elke oggend die slegte nuus in SA op Maroela Media lees om my skuif hiernatoe te regverdig!

Lekker Wêreldstede ·

Van my naaste mense bly lekker in Helsinki, Finland en hulle geniet die geordenheid en voortreflike dienste wat gelewer word baie. Hulle pas goed in want die inwoners is baie meer “gereserveerd” as wat die geval is hier in Suid Afika waar mense nogals luidrugtig is, hier waar mense sommer met enige een begin te praat of selfs vreemdes te groet sonder om ‘n oog te knip en almal weet alles van almal veral in kleiner Suid-Afrikaanse dorpies. Daar is dit heel anders aangesien die inwoners nie sommer sal meng nie, wat hulle verkies.

Lekker woon in die eersteklas wereldstede aan die wat SA verlaat het!

Jean Garner ·

Wene..wonderlike Wene..ek stem volkome saam ek het daar gewerk en verskeie kere besoek.dis asemrowend al is van die mense sowat bietjie kort af…kos is wonderlik,die instandhouding van historiese geboue is merk waardig en is n baie skoon stad alhoewel dit natuurlik baie duur is……..die vervoer werk net en sondae is baie besighede toe maar dan is daar verskeie geleenthede wat mens kan bywoon wat in die week weer oorvol is……LOVE THIS TOWN……

Stem saam: Kaapstad is KunsenKnusLekker!! ·

Ook mal oor Kaapstad waar mense meer gereserveerd en baie meer “ broad minded” is en minder praterig en heelwat minder koekeloerderig is as byvoorbeeld in Pretoria. Mal oor Hemelhuijs in Kaapstad!!!

Gerhard ·

Hierdie soor artikel maak dit net moeilik om jouself om te praat SA is so wonderlik, pragtig sonder probleme. Dinges sommer jou hele dag op!

Nina ·

Damaskus, Lagos en Tripoli. Jammer dat ek lag maar dit is lagwekkend.

Herman ·

Is al hierdie stede lekkerder as die “stede” (seker eerder groot dorpe) van die Karibiese Eilande, plekke soos St John’s, Bridgetown, Santo Domingo, Kingstown, ens. Daai plekke lyk darem baaaanja mooier op foto’s as die stede wat in die artikel genoem word.

Anita ·

Suid-Afrika se misdaad en werkloosheid asook ander verval, ĺaat ons nie eens die lys haal nie. Maar waar kry mens sulke humor? En waar gaan mense juis daardie humor verstaan óf sommer net verstaan wat jy bedoel/ weet waarvan jy praat? Ek sal my mense te veel mis tussen al die gereserveerde buitelanders.

Kerneels ·

Kon my nuuskierigheid nie beteuel nie. Ek sien in die volledige lys van 2017 dat Johannesburg 88ste was en Pretoria 94. Ek sou reken Kaapstad is lekkerder om in te woon. Wonder waar JNB en PTA hierdie jaar lê?

marco polo ·

Ek het lank in Port Moresby gewoon, 5de laaste op die lys. Dis was darem regtig nie so sle nie, wel n groot avontuur. Mens moet hierdie goed maar met n knippie sout vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.