Hiert, kyk so ʼn klein verkleurmannetjie

Die ultrakompakte verkleurmannetjie het dieselfde afmetings en lewensmoeë uitdrukking as sy groter neefs wêreldwyd. (Foto: Frank Glaw)

Wetenskaplikes het die wêreld se kleinste bekende reptiel geïdentifiseer, terwyl hulle terselfdertyd waarsku dat die voortgesette verwoesting van woude in die noorde van Madagaskar sy voortbestaan bedreig.

Klein genoeg om gemaklik op ʼn vingerpunt te pryk, het dié ultrakompakte verkleurmannetjie – genaamd Brookesia nana – dieselfde afmetings en lewensmoeë uitdrukking as sy groter neefs wêreldwyd.

“Ons het dit in die berge in die noorde van Madagaskar ontdek,” het Frank Glaw, kurator van herpetologie by die Bavarian State Collection of Zoology, gesê.

ʼn Gesamentlike ekspedisie in 2012, tussen Duitse wetenskaplikes en hul eweknieë van Madagaskar, het nie geweet of die twee reptiele wat hulle gevind het – een manlik en een vroulik – reeds volwasse is nie. Dít het hulle eers veel later uitgevind.

“Ons het uitgevind die wyfie het eiers in haar lyf gehad en dat die mannetjie groot geslagsdele het, so dit was duidelik dat hulle volwasse is.”

Die besonder groot geslagsdeel maak sowat 20% van die reptiel se algehele liggaamsgrootte uit.

Die mannetjie se liggaam – omtrent die grootte van ʼn grondboontjie – was 13,5 mm lank, terwyl die stert nog nege millimeter bygevoeg het.

Die vroulike reptiel het 29 mm van neus tot stertpunt gemeet.

Die paar is tot dusver die enigste van hul soort wat nog gevind is.

Die wêreld se kleinste reptiel. (Foto: Frank Glaw)

Eilande wat lank gelede aan omliggende vastelande vas was, is bekend vir miniatuurweergawes van diere wat kortstondige landbrûe oorgesteek het. Dit is ʼn verskynsel wat bekend staan as eilanddwergisme.

“Daar is verskeie, uiters klein gewerweldes in Madagaskar, waaronder die kleinste primate en sommige van die kleinste paddas ter wêreld,” het Andolalao Rakotoarison, verbonde aan die Universiteit van Antananarivo in Madagaskar, gesê.

Die eilanduitwerking geld egter nie vir B.nana nie. Dié woon uitsluitlik in berggebiede sowat 1 300 m bo seespieël, het die navorsers bevind.

Glaw sê hulle het geen benul hoekom hierdie spesie so klein is nie.

Wat wetenskaplikes wel weet, is dat die mini-reptiele bes moontlik huiwer op die rand van uitsterwing, selfs al moet die Wêreldbewaringsunie (IUCN) – wat die rooilys oor bedreigde spesies saamstel – nog ʼn assessering daaroor doen.

“Habitatverwoesting is die grootste bedreiging vir Madagaskar se amfibieë en reptiele,” het Glaw gesê.

“Dit kan dalk in die toekoms verander, maar vir nou is dit ontbossing.”

Madagaskar het sedert die middel van die 20ste eeu nagenoeg 45% van sy woudbedekking verloor.

B.nana en ʼn ander miniatuurverkleurmannetjie wat Glaw en sy kollegas op ʼn klein eiland aan die kus van Madagaskar ontdek het, is veral kwesbaar omdat hul gebied so klein is.

Brookesia micra leef in ʼn gebied kleiner as 2 km².

“Een groot katastrofiese gebeurtenis – ʼn bosbrand – en die hele bevolking is baie gou verlore.”

Madagaskar is ʼn wêreldwye biodiversiteit-brandpunt en 5% van die wêreld se unieke plant- en dierespesies kom daar voor.

Die eilandnasie ervaar van die grootste armoede ter wêreld en het nie die geld vir bewaring of die bestuur van natuurlike hulpbronne nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet ·

Ek het nog nooit in my hele lewe gehoor iemand sê “hiert” nie.

Elsabe ·

Kan die kleiner species weggeneem word en erens anders geplaas word? As jy honger is, gaan jy brand steek en ontbos vir ‘n groente-tuin of om steenkool te maak vir verkope. Honger laat jou dinge doen vir oorlewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.