Hiert! Kyk so ʼn pylstert

Die Wonders of the Mekong-projekgroep het vandeesweek foto’s van dié enorme pylstert vrygestel. (Foto: Wonders of the Mekong / AFP)

Vissermanne is bekend daarvoor dat die grootte van ʼn vis wat aanvanklik net só groot was, graag aangedik word tot dit aan die einde van die storie in ʼn monsterbielie verander. Maar vissermanne wat op die Mekong-rivier in Kambodja visgevang het, het ’n hengse skok gekry toe hulle ’n yslike bedreigde varswaterpylstert uit die water getrek het – en daar geen rede was om te oordryf oor die grootte nie.

Dié pylstert, ʼn vroulike leviatan, is vier meter lank en weeg ʼn allemintige 180 kg. Dít is soortgelyk aan die gewig van ʼn sportmotorfiets, klein aluminium boot – of selfs ʼn volgroeide Afrika-leeu.

Dit is boonop een van Suidoos-Asië se grootste en skaarsste visspesies.

Volgens plaaslike wetenskaplikes is die pylstert per ongeluk gevang nadat dit ’n kleiner vis aan ’n aashoek ingesluk het.

ʼn Span kundiges wat deel van die VSA-gefinansierde Wonders of the Mekong-projek vorm, het saam met die vissermanne gespook om die pylstert los te maak, te weeg en te meet voordat dit weer ongedeerd in die rivier vrygelaat is.

Die Wonders of the Mekong-projekgroep het vandeesweek foto’s van dié enorme pylstert vrygestel. (Foto: Wonders of the Mekong / AFP)

Die enorme Mekong-gebied huisves meer as 1 000 visspesies – groot en klein. Reusebabers wat in dié rivier woon kan tot drie meter lank word en selfs soveel as 270 kg weeg.

Zeb Hogan, projekleier van Wonders of the Mekong, sê daar is nog nie veel begrip vir die rivier se onderwaterekosisteem nie en sê dit bestaan uit “onsigbare wêrelde” wat nie ten volle waardeer word nie.

Hogan sê die pylstert is in ʼn afgeleë gebied gevind en dat nóg groter spesies moontlik in poele van tot 80 meter diep skuil.

Die studiegroep waarsku egter dat onderwaterbeeldmateriaal groot hoeveelhede plastiekafval in die Mekong-rivier aandui, asook sogenaamde spooknette wat deur vissermanne agtergelaat word. Dit hou alles ʼn bedreiging vir die ryk vislewe in dié rivier in.

Dit word verder vererger deur die bou van damme in die rivier, wat ʼn invloed op visvoorraad kan hê.

Die Mekong ontspring in China en kronkel suid deur dele van Thailand, Laos, Mianmar, Kambodja en Viëtnam. AFP berig dat sowat 60 miljoen mense deur vis uit dié rivier se kom en sytakke gevoed word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Sjoe dit is ‘n grote! Altyd gedink pylsterte kom net in die see voor.

Cherokee ·

Selfde hier. Ons woon op die strand en ek het ook gedink pylsterte is eie aan die see.

KarooKnapie ·

Dink “hiert” sal nie in my woordeskat wees as ek so meneer moet teekom nie… Hy sal al die lelike woorde in die Afrikaanse taal ken na ons “ontmoeting”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.