Historiese ontmoeting tussen Koreas geloof

Kim en
Moon skud blad. Foto: Korea Summit Press Pool via AP

Die leiers van Noord- en Suid-Korea het Vrydag, net maande na ’n jaar waarin dit gelyk het of hulle op die randjie van ’n oorlog was, ’n vredesverdrag onderteken.

In die vredesverdrag onderneem hulle om ontslae te raak van kernwapens in die Koreaanse skiereiland. Kim Jong-oen het geskiedenis gemaak deur die eerste Noord-Koreaanse leier te word om die gedemilitariseerde gebied en die grens na Suid-Korea oor te steek om samesprekings te hou met pres. Moon Jae-in van Suid-Korea.

Die twee Koreas het ook aangekondig dat hulle vanjaar saam met die VSA en China sal werk om die einde van die Koreaanse Oorlog van die 1950’s te verklaar. Die Koreas het gesê dat hulle sal druk vir gesamentlike gesprekke met die VSA en moontlik ook China om die Koreaanse Oorlog amptelik te beëindig. Die oorlog het in ’n wapenstilstand geëindig, maar tegnies is dit steeds aan die gang.

Kim en Moon na die ondertekeing van die vredesverdrag. Foto: Korea Broadcasting System via AP

Die Koreas het gesê hulle hoop dat die partye teen einde vanjaar ’n amptelike einde aan die oorlog sal kan verklaar.

Noord-Korea dreig al dekades lank om kernontwikkeling na te streef tensy Washington sy troepe van die skiereiland en die kernsambreel wat Suid-Korea en Japan beskerm, verwyder.

Kim en Moon het na afloop van die samesprekings aangekondig dat daar ooreengekom is om ’n einde te bring aan alle vyandige dade wat militêre spanning en botsings kan veroorsaak. Vanaf 1 Mei sal alle propoganda-uitsendings oor luidsprekers gestaak word.

Daar is ook ooreengekom om stappe te doen om die gereelde botsings rondom die westelike maritieme grens te ontlont deur die gebied as ’n “vredesgebied” te verklaar en veilige bedrywighede van vissers van beide lande te verseker.

Kim en Moon stap verby ‘n erewag in Panjonmun. Foto: Korea Summit Press Pool via AP

Die Koreas het ook ingestem tot ’n permanente kommunikasiekantoor in die Noord-Koreaanse dorpie Kaesong en om tydelike reünies tussen familielede wat geskei is weens die oorlog te herstel.

Die samesprekings tussen Kim en Moon is uit verskeie oorde verwelkom. Pres. Donald Trump het gesê na ’n  jaar van missiel- en kernkragtoetse blyk daar goeie dinge aan die gebeur te wees. Kim sal na verwagting einde Mei of in Junie met Trump ontmoet.

Shinzo Abe, eerste minister van Japan, het die samesprekings beskryf as ’n tree vorentoe om die Noord-Koreaanse bedreiging op te los.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oom Kalahari ·

Dit is ‘n pragtige gebaar en uitstekende vredes ooreenkoms na sovele jare van oorlog voering sedert 1950. Pres. Moon is ‘n ware vredes bemiddelaar en jou waarlik iemand vir wie mens opregte respek kan he. Hoop hierdie vredes ooreenkoms sal ook nou uitbrei na uitbreidings van werk moontlikhede, en voorrade uitreilings op alle vlakke. Sterkte op jul pad vorentoe en wens Noord en Suid Korea alle sukses en hoop jul gaan nog groot hoogtes bereik in alle vlakke van onderhandelinge.

Therese van Schalkwyk ·

Donald Trump sal geen erkenning vir hierdie verrassende gebeure kry nie, maar hy is ten volle daarvoor verantwoordelik.
Sy totaal ondiplomatiese, onpolitiese manier en verfrissend reguit taalgebruik het die hele muf ou spulletjie wakker geskud uit die groef waarin hulle vasgegroei het tydens die vorige politieke era.
Hy het “Rocket Man” en sy suidelike buurman goed laat verstaan wat van die Koreas gaan oorbly na die “Knoppie” gedruk is, en dat China se deurgaanse omseiling van sanksies nie ongesiens verbygaan nie.
Vertel dit egter vir stiksienige, histeriese Trump-haters, wat hulself sedert sy verkiesing onophoudelik besig hou met opstokery en allerande kleinlikhede.

Gerhard ·

Klink vir my die diktator van Noord-Korea het gesien sy einde is naby. Slinkse plan om te oorleef. Dit lyk tog asof Trumpism werk en dat Tienie Fourie sy naam met ‘n plank geslaan het met ‘n onlangse artikel.

Eish ·

Almiskie, maar, dit wys jou net weer dat die onderhandelingstafel met keurige disse gedek word indien jy aansit vanuit n posisie van mag, kernvermoë.
Die aspek wat in totaliteit kort by die minderheid in die helhool, n posisie van mag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.