Die huis waar die voormalige Duitse leier Adolf Hitler gebore is, gaan eersdaags in ’n polisiestasie omskep word. Dit sal voortaan die plaaslike polisiemag huisves.
Plaaslike owerhede het vandeesweek die lot van dié vaalgeel huis op ’n straathoek in Braunau am Inn in Oostenryk, op die grens met Duitsland, aangekondig. Die huis het in 2017 staatsbesit geword.
Dit bring ’n einde aan groot onsekerheid oor wat van dié gebou gaan word wat oor die jare ’n gedenkteken vir neo-Nazi’s geword het.
Wolfgang Peschorn, minister van binnelandse sake, het Dinsdag gesê die “toekomstige gebruik van die huis deur die polisie moet ’n onmiskenbare boodskap stuur dat die gebou vir ewig van die herdenking van nasionale sosialisme verwyder word”.
Argitekte word nou uitgenooi om planne vir die herontwerp van die gebou in te dien.
Klara Hitler het op 20 April 1889 in dié huis geboorte aan haar seun geskenk, waarna die Hitler-gesin weke later na ’n ander huis in die dorp verhuis het. Die voormalige Duitse leier was drie jaar oud toe sy gesin Braunau am Inn verlaat het.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Kan al die groot minister huise in SA nie polisiestasies word nie? Sou nie dink dat enigeiemand meer in die wereld die naam Adolf, en die van Hitler gebruik nie?
Nie sy huis nie, dit is sy ouerhuis. En so word “Mein Kampf” ñ werklikheid.
Hulle kan nie geskiedenis uitwis nie.
Kom ons omskep Nkandla in ‘n rioolplaas.