Hittegolf laat rekords spat in VSA

Foto ter illustrasie. (Foto: Andrew George/Unsplash)

Dele van die suide en die weste van die VSA het vandeesweek rekord temperature beleef met sommige gebiede wat meer as 110 °F (43 °C) aangeteken het.

Palm Springs in Kalifornië het Woensdag ʼn temperatuur van 113 °F (45 °C) bereik nadat dié gebied Dinsdag ʼn rekord temperatuur van 120 °F (49 °C) aangeteken het.

Nevada en Arizona sal na verwagting later die week onderskeidelik temperature van tot 125 °F (52 °C) en 128 °F (53 °C) ervaar.

Volgens CBS San Francisco het die onafhanklike kragvoorsiener in Kalifornië gesê dat die abnormale hoë temperature na verwagting tot die naweek sal voortduur.

“Die aande sal ietwat koeler wees met temperature tussen 78 °F en 83 °F (26 °C en 28 °C).”

Die kragvoorsiener het ook inwoners versoek om krag tydens die hittegolf spaarsamig te gebruik. “Die kragnetwerk gaan sukkel om in die groot vraag na krag te voorsien wanneer lugversorgers geredelik gebruik word en sonenergie nie opgewek kan word nie.”

In Texas het hoë temperature reeds meganiese probleme by kragstasies veroorsaak wat tot grootskaalse kragonderbrekings gelei het.

“Meer as 12 000 MW het tydens die kragonderbrekings verlore gegaan. Dit is genoeg krag om 2,4 miljoen huise aan die gang te hou,” het ʼn woordvoerder van Texas se raad vir elektriese betroubaarheid, gesê.

ʼn Ondersoek is intussen van stapel gestuur om te bepaal waarom daar soveel onbeplande kragonderbrekings is.

Brande in Kalifornië woed vroeg vanjaar. (Foto: Patrick Fallon/AFP)

Volgens CNBC News is meer as ʼn driekwart van die westelike state in die middel van ʼn droogte en word meer as 40 miljoen Amerikaners deur dié hittegolf geraak. Waarskuwings vir wegholbrande is ook in verskeie deelstate uitgereik.

Rupa Basu, hoof van lug- en klimaatepidemiologie vir Kalifornië se departement van omgewingsgesondheid, het gesê dat die kombinasie van droogte en ‘n hittegolf boonop brande en swak luggehalte tot gevolg sal hê. Die hoë humiditeitvlakke kan ook meer donderstorms veroorsaak wat die kanse vir wegholbrande vermeerder.

“Sedert Woensdag het 33 veldbrande meer as 145 000 hektaar in tien deelstate verwoes,” het die nasionale brandweersentrum gesê.

Brandweermanne in die suide en weste van die VSA is reeds besig om voor te berei vir die verskeie veldbrande vanjaar. Sowat 15 000 brandweermanne is gereed om dié brande aan te durf met meer as 200 helikopters en 900 brandweerwaens om hulle by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Ek verstaan Kalifornie area het ook hoë himiditeit soos ons Durbanse klimaat. Dit moet onbeskryflik warm wees as ek sukkel om soms ons 30grade C te hanteer en hulle nog soveel hoër dan…. wonder regtig soms as aardsverwarming nie vinnig onder beheer gebring word nie, waar gaan ons wereld wees oor nog 50 jaar

Blikkies ·

Ja, daar onder ‘n boom op die grondpad so tussen Swartwater en Tolwe het ons hom al op so 47 grade Celsius gemeet. Ek het verneem daar was al hoer temperature selfs na Messina se kant toe. Dit is nie ‘n grap nie. Gelukkig is die inwoners daar gewoont aan hoe hitte toestande, maar die mense wat dit nie ken nie sal swaar trek. Voel jammer vir daai Yanks.

Stella ·

Kimberley Noordkaap is n plek van uiterstes. Ons het al 53°C in di somer hier gemeet..di teer het onner jou voete gesmelt, maar ons is gewoond aan sulke hitte..49°C is nix vir ons ni..kry di Amerikaners jammer..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.