Hoe belangrik is Philae se ontdekking van organiese molekules op komeet?

KomeetPhilae se ontdekking van organiese molekules op die komeet is baie belangrik, maar die ophef wat in sommige media daaroor gemaak is dui op groot onkunde oor wat die term “organiese materiaal” beteken, en tot die Europese Ruimte-agentskap meer besonderhede oor die samestelling van die organiese molekules verskaf, is terughoudendheid die beste.

Op skool word geleer van organiese en anorganiese materiaal, met die verskil dat organiese materiaal deel van ’n lewende organisme is of was.
In die rumtewetenskap beteken organiese materiaal bloot materiaal wat koolstofatome bevat, en daar is al tevore vasgestel dat hierdie soort materiaal wydverspreid in die heelal voorkom. Dit hou nie noodwendig met lewe verband nie – metaan is byvoorbeeld ook organies, maar het nie noodwendig ’n verbintenis met lewe nie.

Sou dit blyk dat die organiese materiaal wat Philae op die komeetkern ontdek het, ’n komplekse samestelling soos aminosure het, is daar werklik rede tot groot opgewondenheid.

Die voortydige opgewondenheid spruit daaruit dat wetenskaplikes meen dat toestande op die toe nog jong aarde nie bevorderlik was vir die ontstaan van die komplekse soort organiese materiaal wat nodig was om lewende organismes te ondersteun nie. Baie het toe na die ruimte gekyk as moontlike bron om dié soort materiaal na die aarde te bring, en komete en asteroïde het die vernaamste kandidate geblyk te wees.

Sommiges glo byvoorbeeld dat in die ooreenstemmende tydperk, was toestande vir die ontstaan van die nodige organiese materiaal op Mars ideaal onder meer weens die geringe swaartekrag, en dat van hierdie materiaal op meteoriete van Marsrots na die aarde gereis het. Verskeie meteoriete wat van Mars kom is inderdaad al op aarde gevind.

Die Europese Ruimte-agentskap se kriptiese aankondiging is dus gou deur pseudo-wetenskalikes en joernaliste uit verband geruk.

Bronne: IFL Science, Io9, en University Today.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.