Hoe ‘n Romney-presidentskap mag lyk

Mitt Romney

Met slegs een dag oor voor die Amerikaanse verkiesing is daar konsensus onder onafhanklike kommentators in die VSA dat vanjaar se verkiesing ‘n kop-aan-kop stryd soos wat lanklaas gesien is, gaan wees. Hoewel President Obama ‘n effense voorsprong het weens die feit dat hy die sittende president is en sy persoonlike gewildheid, sy hantering van Orkaan Sandy en die demografiese realiteite van die VSA, erken meeste kommentators dat Mitt Romney se kans om die verkiesing te wen byna net so goed soos Obama s’n is. Wat in Romney se guns tel is die gemotiveerdheid van konserwatiewe kiesers, sy agtergrond as ‘n bestuurder wat groot projekte uit die moeilikheid uit kan neem en daarvan ‘n sukses kan maak en die feit dat Obama se beleidsbesluite die afgelope vier jaar redelik ongewild was en steeds is.

Die groot vraag op almal se lippe is wat Romney anders sal doen as Obama en veral wat Romney anders sal doen as die vorige Republikeinse president, George W. Bush. In een van die debatte tussen Obama en Romney is Romney juis oor hoe hy van die ongewilde Bush verskil, uitgevra. Hy het duidelik aangetoon dat hy verskil van Bush op internasionale beleid (dink maar aan die twee ongewilde Bush-oorloë), en die omvang van staatspandering (Bush was verantwoordelik vir groot begrotingstekorte).

Hoe sal Romney anders regeer as Obama? Toe Obama in 2008 as president van die VSA verkies is, het hy belowe om Demokrate en Republikeine bymekaar te bring en groter samewerking in Washington te bewerkstellig. Die teenoorgestelde het gebeur en spanning tussen die twee partye het sodanig toegeneem dat die regering gereeld lamgelê word deur die onvermoë van die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat om wetgewing deur te voer.

Die New York Daily News het gister (Sondag) in ‘n verrassende stap besluit om sy steun aan Mitt Romney te gee nadat die koerant in 2008 Obama ondersteun het. Die Daily News volg heelwat ander koerante waaronder die Des Moines Register (eerste keer sedert 1972 dat hulle ‘n Republikein steun), Houston Cronicle en die Orlando Sentinel wat almal in 2008 Obama ondersteun het en vanjaar hul steun aan Romney toegesê het.

Die Daily News se redaksie verduidelik in sy fassinerende hoofartikel, dat dit juis Obama se onvermoë om partye en individue bymekaar te bring ten einde die ekonomiese probleme van die VSA te begin aanspreek, is wat hulle laat besluit het om Romney te steun.

Mitt Romney word allerweë as ‘n pragmatis en gefokusde bestuurder beskou. Die opinie word toenemend uitgespreek dat hy die Amerikaanse regering sal bestuur soos wat hy die Winter Olimpiese Spele in 2002 in Salt Lake City bestuur het. Die spele se organisering was totaal chaoties met groot finansiële verliese toe Romney ingekry is om dit reg te ruk. Die uiteinde was ‘n suksesvolle spele wat selfs ‘n wins getoon het.

By Bain Capital, die maatskappy waar Romney sy miljoene gemaak het, het hy gereeld falende maatskappye oorgeneem en deur regrukpogings op ‘n pad van sukses geplaas.

As goewerneur van een van die mees liberale (en dus ook Demokraat-gesinde) state in die VSA, Massachusetts, moes Romney saamwerk met ‘n plaaslike Huis van Verteenwoordigers en ‘n Senaat wat uit meer as 80% Demokrate bestaan het. Tog kon Romney goed saamwerk met hierdie Demokrate om hervorming in plek te stel.

Romney is ‘n onderhandelaar, ‘n analis, ‘n veranderingsbestuurder en natuurlik ‘n meesterpragmatis. Om egter tot die presidentskandidaat van die Republikeine verkies te kon word en selfs net om môre as president verkies te word het die afgelope paar maande van Romney gevra om meer geharde standpunte in te neem. Die vraag is hoe om hierdie standpunte die fokus van sy presidentskap sal wees.

‘n Romney-presidentskap kan gekenmerk word deur ‘n spanning tussen geharde konserwatiewe leiers en ‘n pragmatiese Wit Huis. Die alternatief is ‘n sterk president wat deur onderhandeling daarin slaag om partye bymekaar te bring. Vir so ‘n strategie om te slaag sal Romney ‘n duidelike visie in sy eerste maande as president aan die Amerikaanse publiek moet kommunikeer en eers hul inkoop daarin verkry. Indien ‘n President Romney daarin kan slaag om ‘n groot meerderheid Amerikaners agter hom te verenig (soos wat hy as goewerneur in Massachusetts gedoen het) sal die leiers van die twee partye in die Huis van Verteenwoordigers en Senaat verplig wees om met hom saam te werk.

‘n President Romney sal waarskynlik heelwat afstand tussen homself en die ongewilde neo-konserwatiewe been van die Republikeinse Party, wat in die Bush-jare grootliks in beheer van regeringsbesluite was, plaas. Dit sal behels dat ‘n meer gematigde internasionale beleid in plek gestel word waar ‘n sterk weermag steeds ‘n prioriteit is, maar intervensie selfs minder as in die Obama-jare sal plaasvind.

Wat die ekonomie aanbetref sal Romney waarskynlik poog om Amerikaners daarvan te oortuig om saam die las te dra van grootskaalse hervorming wat drastiese verlagings in regeringspandering sal insluit. Een manier waarop hy die federale regering se spandering sal probeer besnoei, is deur sekere programme na die state te delegeer. Dit sal veroorsaak dat die onderskeie state ‘n groter las moet dra en dat kreatiewe oplossings, soos eintlik deur federalisme voorgeskryf, vanaf die goewerneurs en hul onderskeie regerings eerder as die federale regering sal moet kom.

Sou Mitt Romney môre tot president van die VSA verkies word, sal daar ‘n interessante tyd vir Amerika voorlê. Romney is in sy wese ‘n gematigde, maar beginselvaste Mormoon, wat egter ook ‘n sterk pragmatis is wat nie skroom om van standpunt te verander of kompromieë aan te gaan ten einde sy einddoel te bereik nie. Romney is in sy wese bereid om oor insette te praat terwyl die uitset waarop hy aandring ononderhandelbaar is.

Môre kyk ons na wat ‘n moontlike tweede Obama-termyn vir Amerika kan inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.