Hof beslis Zim-weermag se oorname was wettig

Lede van die Zimbabwiese weermag. Foto: AP Photo/Ben Curtis

ʼn Regter in ʼn Zimbabwiese hooggeregshof het beslis die militêre aksie wat gelei het tot Robert Mugabe se bedanking as president, was wettig.

Dié sleuteluitspraak kom te midde van die weermag wat probeer bewys dat sy optrede nie ʼn staatsgreep was nie. Volgens kenners stel die uitspraak ʼn gevaarlike presedent wat die weg baan vir die weermag om weer in te gryp.

Regter George Chiweshe het Vrydag beslis die weermag se metodes van ingryping “om die oorname van Mugabe se grondwetlike verpligtinge deur diegene rondom hom” te verhoed, is grondwetlik toelaatbaar en wettig.

Die weermag het byna twee weke gelede ingegryp nadat Mugabe sy toe adjunk, Emmerson Mnangagwa, in die pad gesteek het te midde van vrese dat die 93-jarige Mugabe se ongewilde vrou, Grace, haarself posisioneer om beheer van die land oor te neem.

Gewapende Zimbabwiese soldate sit op ʼn weermagtenk in Harare in Zimbabwe (15 November 2017). Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Die regter het gesê die weermag se optrede het verseker dat individue wat nie tot magsposisie verkies is nie, nie uitvoerende besluite neem nie – ʼn oënskynlike verwysing na Grace. Die regter het ook beslis Mugabe se afdanking van Mnangagwa as adjunkpresident was onwettig.

Mnangagwa is Vrydag as die interim president van Zimbabwe ingesweer.

Chiweshe se besluite is gekritiseer deur regskenners en bondgenote van Mugabe en sy vrou. Jonathan Moyo, die minister van hoër onderwys en ʼn getroue bondgenoot van Mugabe, het getwiet: “As hierdie asemrowende hooggeregshofbeslissing wat gister in Harare gelewer is verteenwoordigend is van wat nou as ʼn ‘nuwe pad’ vir Zimbabwe voorgehou word, bid asseblief vir Zimbabwe.”

Dewa Mavhinga, die Human Rights Watch-direkteur vir Suider Afrika, het die hof se beslissings as “ongelooflik” bestempel en op Twitter gesê: “Vreemd, ʼn gekaapte regbank?”

Zimbabwe se weermag het op 14 November oornag tenks in Harare ingestuur en die staatsuitsaaier oorgeneem om aan te kondig Mugabe is onder huisarres. Die weermag het ook gesê hy teiken “misdadigers rondom Mugabe” wat daarvan beskuldig is dat hulle die land se ekonomie skade berokken.

Emmerson Mnangagwa (regs) word as die nuwe president van Zimbabwe ingesweer (24 November 2017). Foto: AP Photo/Ben Curtis

Mugabe het uiteindelik Dinsdag sy bedanking aangekondig, nadat derduisende Zimbabwiërs die strate ingevaar het om te eis dat Mugabe uittree.

Mnangagwa, wat kort ná sy afdanking uit die land gevlug het, het met sy terugkeer gesê hy was deurlopend in kontak met die weermag terwyl hy uit die land was. Groot dele van die internasionale gemeenskap het vermy om na die weermag se optrede as ʼn staatsgreep te verwys en het die Zimbabwiese owerhede aangemoedig om die reg te respekteer gedurende die politieke onrus.

Alex Magaisa, ʼn Zimbabwiese prokureur, het gesê die jongste beslissing deur die hooggereghof “kan terugkom om by Mnangagwa se regering te spook” deur ʼn gevaarlike presedent te skep wat basies militêre ingryping in regeringsake as wettig verklaar. Hy het gesê dit is ook interessant dat die hofbeslissing “met toestemming” uitgereik is, wat aanduidend is dat Mugabe moontlik daartoe ingestem het. “Indien hy het, kan dit deel van Mugabe se uittree-ooreenkoms wees.”

Zimbabwiërs vier fees in die strate van Harare nadat daar aangekondig is dat Robert Mugabe as president van Zimbabwe bedank het (21 November 2017). Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Mugabe is nog nie weer in die openbaar gesien nie ná sy toespraak Sondag waarin hy oproepe vir hom om te bedank geïgnoreer het. Volgens die Zimbabwe Herald sal hy in Zimbabwe aanbly en Mnangagwa het Donderdag met hom vergader om hom van “maksimum veiligheid” te verseker.

Mugabe het nie Mnangagwa se inswering Vrydag bygewoon nie. ʼn Hele aantal kabinetsministers is nog nie weer in die openbaar gesien nadat die weermag oorgeneem het nie.

Ignatious Chombo, die minister van finansies, het Saterdag in ʼn hof verskyn op aanklagte van korrupsie wat verband hou met sy termyn as minister van plaaslike regering. Lovemore Madhuku, Chombo se regsverteenwoordiger, het aan Associated Press gesê Chombo is aangerand nadat die weermag oorgeneem het. Hy is deur die weermag aangehou, maar is nou in polisieaanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PJC ·

My mening is dat daar in ons land ook al heelwat persone op diebank is (hoër en laer howe) wat hierdie tipe beslissings neem weens transformasie. Hou maar net die nuusmedia dop en kyk na party van die absoluut belaglike uitsprake.

Gerhard ·

Kyk ek is nie hartseer om Robert Mugabe te sie gaan nie, maar ek dink as jy jouself wysmaak dit gaan nou beter gaan (veral met blankes) in Zim dan rook jy iets.

Johann Marx ·

Maak nie saak wat in enige Afrika land gebeur nie………..daar is ALTYD se bietjie geweld by. Hulle probeer darem in die oë van die Eerste Wêreld maak asof daar wettiese optrede, regspraak en hof uitsprake is………maar eintlik word die hele proses gedryf deur dreigemente van geweld, magsvertoon, en so paar houe as niemand kyk nie. Dis Afrika…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.