Hof besluit gou oor saak teen prins Andrew

Prins Andrew (Foto: John Thys / AFP)

ʼn New Yorkse regter sal “binnekort” besluit of hy ʼn regsgeding vir seksuele aanranding teen Brittanje se prins Andrew van die hand gaan wys al dan nie. Dít nadat die koninklike se prokureurs Dinsdag aangevoer het dat hy beskerm word deur ʼn skikking wat sy beskuldiger meer as ’n dekade gelede onderteken het.

Virginia Giuffre het in 2009 ingestem om ʼn siviele eis teen die Amerikaanse finansier wyle Jeffrey Epstein vir $500 000 (nou sowat R8 miljoen) te laat vaar.

Die skikking, wat Maandag vir die eerste keer in ’n hof bekend gemaak is, bevat ’n bepaling wat “ander potensiële beskuldigdes” teen dagvaarding beskerm wat verband hou met beweerde seksuele misbruik gepleeg deur Epstein.

Andrew Brettler, die prins se regsverteenwoordiger, sê nou Giuffre het “van haar regte afstand gedoen” om sy kliënt te dagvaar “toe sy die ooreenkoms aangegaan en die geld van Epstein aanvaar het”.

Brettler hou vol dié skikking is “ondubbelsinnig” en beskerm die prins teen litigasie.

Giuffre se prokureur, David Boies, sê egter die ooreenkoms tussen Epstein en sy kliënt hou hoegenaamd nie verband met die koninklike nie aangesien dit in die Amerikaanse deelstaat Florida onderteken is.

“Prins Andrew was nie onderhewig aan jurisdiksie nie,” het hy in die hof aangevoer.

’n Regskenner van die Pace Universiteit in New York, Bennett Gershman, sê hy verwag dat die regter Andrew se argument sal verwerp.

“Sê hulle almal in die wêreld is nou vry as gevolg van die skikking? Dit gaan mense moeilik oortuig,” hy aan AFP gesê.

Giuffre beweer sy is as minderjarige deur Epstein vir seks “uitgeleen”. Hy het in 2019 sy eie lewe in ʼn tronk in New York geneem terwyl hy verhoorafwagtend op aanklagte van mensehandel was.

Giuffre voer aan Andrew het haar 20 jaar gelede seksueel mishandel by die sosiale vlinder Ghislaine Maxwell se huis in Londen, asook by Epstein se huis in New York en op Little St. James, Epstein se private eiland in die Amerikaanse Maagde-eilande.

Maxwell is sowat ’n week gelede skuldig bevind op aanklagte van mensehandel en dat sy jong meisies vir Jeffrey Epstein voorberei het om seksueel misbruik te word.

Andrew, koningin Elizabeth se tweede seun, ontken ten sterkste bewerings dat hy met Giuffre omgang gehad het en sê hy kan glad nie onthou dat hy haar ooit ontmoet het nie.

Die koninklike is nie strafregtelik aangekla nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Perdeby ·

Ai ek kry hom eintlik jammer, en die girl was 17 jaar, en beslis het sy geweet wat die verskil tussen reg en verkeerd was.

Janice ·

Jy kan absoluut nie ernstig wees nie. Sal jou siening dieselfde wees as dit jou 17 jarige kind was?

Marius ·

As hy wel skuldig hieraan is, is dit net reg dat hy aan die pen sal ry. Jou stand en geld vrywaar jou nie van vervolging nie.

Di ·

Party mense dink omdat hulle beroemd of skatryk is, hulle kan wegkom met alles. Geen simpatie met hom, hy moes geweet het waarvoor hy hom inlaat daardie tyd. Die blinde sambok slaan hard!

Mallie ·

Lekker sy het die geld gespandeer en nou soek sy nog. Vinnig gewees om die geld te aanvaar wat dit vir haar en haar familie die lewe lekker gemaak het en nou is daar nie meer nie. Foeitog arme mens. Sterkte Andrew.

annie ·

Hoekom het Epstein die geld betaal? Hy het ‘n vorige veroordeling en tog het Andrew daar gekuier. Sy is betaal en die prins was dalk betrokke. Die wiel draai. Sarah was lank gelede die hond in die storie en hulle is daarna geskei en hier kom Andrew wat sy handjies in onskuld wil was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.