Hof beveel Nederlandse regering om aandklokreël op te hef

Foto: ROBIN VAN LONKHUIJSEN/ANP/AFP

ʼn Nederlandse hof het die regering Dinsdag beveel om onmiddellik die landwye aandklokreël, wat tot gewelddadige onluste gelei het, op te hef.

ʼn Regter van die Den Haag-distrikshof het beslis dat die regering verkeerdelik sy noodmagte ingespan het om die eerste aandklokreël sedert die Tweede Wêreldoorlog in te stel.

Die saak is deur die Viruswaarheidgroep aanhangig gemaak wat ʼn reeks protesoptredes teen koronavirusmaatreëls in Nederland gelei het.

“Die aandklokreël moet onmiddellik opgehef word,” het die hof in ʼn verklaring gesê. “Die aandklokreël is ʼn ingrypende skending van die reg op vryheid van beweging en privaatheid. Dit vereis ʼn baie noukeurige besluitnemingsproses.”

Die regering kan die beslissing teenstaan, maar enige appèlaansoek in dié verband sal nie die regter se beslissing ophef nie, het ʼn woordvoerder vir die hof aan AFP gesê.

Die aandklokreël van 21:00 tot 04:30 het op 23 Januarie in werking getree en is verlede week tot 2 Maart verleng. Die besluit het tot drie aande van onluste gelei waartydens polisiebeamptes waterkanonne en traangas ingespan het teen betogers in onder meer Amsterdam, Rotterdam en Eindhoven.

Daar was geen onmiddellike reaksie van die regering nie.

Die hof het beslis dat die instelling van die aandklokreël nie die spesiale dringendheid oproep wat nodig is om noodwette toe te pas om beperkings in te stel sonder om deur albei huise van die parlement oorweeg te word nie.

Die gebruik van ʼn aandklokreël is vir onverwagse noodgevalle soos ʼn oewerwal wat meegee en vloede tot gevolg het, het die regter gesê. Die feit dat die aandklokreël voor die instelling daarvan bespreek is, beteken dat die regering genoeg waarskuwing gehad het om die regte proses deur te voer.

“Die gebruik van hierdie wet om die aandklokreël in te stel is dus nie wettig nie,” het die hof gesê.

Die aandklokreël is wel deur ʼn meerderheid van die parlementslede goedgekeur voordat dit ingestel is, maar dit is nie ook deur die senaat bespreek nie.

Die Viruswaarheidgroep is deur Willem Engel, ʼn dansonderwyser, op die been gebring. Engel het op sosiale media gesê die huidige situasie in Nederland is ʼn diktatorskap. Hy het verder beweer dat die onlangse onluste deur ʼn “intelligensie-agentskap” georkestreer is sodat die regering die weermag kan inroep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Alles omtrent hierdie virus maak inbreuk op mense se regte. Jammer hierdie regering wil dit nie ook in sien nie. Mooi so Nedreland. Kom betoog hier teen die spul hier, asseblief. Ons nou moeg vir al hierdie inperkings en beheer oor ons lewens.

Karel

Sien julle, geweld werk. Nie altyd nie, maar wel soms.

Alleen Wolf

Dit was nie noodwendig die geweld wat die hofbevel tot gevolg gehad het nie, maar eerder ‘n regsbank wat onafhanklik van die regering sake beoordeel op meriete.

Pieter

Nee anel ons moet self standpunt in neem. Maar saam staan en standpunt in neem is iets wat ons nie kan doen nie.

Boerkind

As die Nederlanders ‘n rassistiese, bende-diktatorskap wil sien, hoef hulle net na die ou Reënboognasie hier aan die Suidpunt van Afrika te kom kyk….