Hof hoor man wou koningin Elizabeth II vermoor

Engeland se Koningin Elizabeth II. (Argieffoto: Aaron Chown/AFP)

ʼn Man het Woensdag in ’n hof in Londen, Engeland, verskyn nadat hy maande gelede glo gewapen met ’n kruisboog toegang tot die terrein van Windsor Castle verkry het.

“Ek is hier om die koningin dood te maak,” was die 20-jarige Jaswant Singh Chail van Southampton in die suide van Engeland se ysingwekkende woorde toe hy verlede jaar op Kersdag op die kasteel se terrein betrap is.

Die jong man staan nou tereg op aanklag van hoogverraad. Hy word ook daarvan aangekla dat hy ʼn doodsdreigement gemaak het en in besit was van ʼn aanvalswapen.

Chail het glo die betrokke oggend binne sig van die monarg se woning gekom voordat veiligheidwagte hom vasgetrek het, het die staatsaanklaer Kathryn Selby Woensdag in die Westminster-landdroshof gesê.

Koningin Elizabeth II het dié Kersdag by die kasteel saam met haar oudste seun en erfgenaam, prins Charles, en sy vrou, Camilla, deurgebring.

Die Westminster-landdroshof in Londen. (Foto: CARLOS JASSO / AFP)

Die ernstigste aanklag waardeur Chail nou in die gesig gestaar word kragtens die 180 jaar oue Wet op Verraad, is “opset… om die persoon van haar majesteit koningin Elizabeth II te beseer, of om haar majesteit te verskrik”.

Chail het glo voorheen selfs probeer om by die Britse departement van verdediging én die Grenadier Guards- infanterieregiment aan te sluit om nader aan die Britse koninklike familie te kom.

Daar word nou beweer dat Chail wraak wou neem vir die behandeling van Indiërs in Brittanje. Volgens aanklaers het hy ʼn video gemaak waarin hy gesê het dat hy die koningin om die lewe gaan bring.

Die laaste soortgelyke saak was dié van die Brit Marcus Sarjeant wat in 1981 vyf jaar tronkstraf opgelê is nadat hy destyds loskruit rondes afgevuur het terwyl die koningin besig was met die tradisionele Vaandelparade. Sarjeant het destyds skuldig gepleit.

In 1982 het ʼn man in sy 30’s die koningin se private kamers in die Buckingham-paleis binnegedring terwyl sy in die bed was voordat die polisie hom aangekeer het.

In die somer van 2019 is ʼn man in hegtenis geneem nadat hy oor die hekke van die Buckingham-paleis geklim het en in 2018 het ʼn hawelose man oor die muur geklim en op die terrein gelê en slaap voordat hy aangekeer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elize ·

Wat het die konings van lank terug met hulle vyande/ verraaiers gedoen?

Swerwer ·

Genade maar daar is net geen einde aan hierdie siek wesens nie.

Jaco ·

Nie juis ‘n Britse/Engelse naam nie. Maar nouja, dis mos rassisme en miskenning van “menseregte” as dié “onskuldige” immigrante wat glo almal “vlugtelinge” is, nie in die Verenigde Koninkryk toegelaat word nie.

Oosieoos ·

Hoekom verskil die wet vir sogenaamde koninglikes. Dis blatante diskriminasie. Wat goed is vir een is goed vir ander

Lourens ·

Die lappe-dra ding is lankal verby. Kry ‘n ander foto, toe?

Miena ·

Ek dink nou aan….”aanhouer wen”. Blykbaar het die man in 1982 (tot in die kamer) reggekom. sy strategie het vir hom gewerk tot op n punt. Kyk ek is self nie n hartheftige volgeling van Haar Hoogheid nie – maar mens bly weg uit ander se wonings sonder n uitnodiging, en as jy nie van iemand hou nie is dit nie nodig om hom / haar van die gras te maak nie. Hou verby – bly in jou baan en gaan aan met jou lewe. Gaan drink n dop of spring in die see of bou n brug maar kom net oor jou gevoel. Ewenwel – dis goed om te sien sy het hoeveel aanvalle teen haar – plus Covid, Ebola, Varkgriep en Ippiekonders oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.