Hof keer Assange se uitlewering aan VSA 

Julian Assange, stigter van WikiLeaks. Foto: Matt Dunham/AP)

’n Britse hof het Maandag beslis dat die WikiLeaks-stigter Julian Assange nie aan die VSA uitgelewer moet word om klagtes van spioenasie in die gesig te staar vir die publikasie van honderdduisende geheime dokumente nie.

Regter Vanessa Baraitser het beslis dat die 49-jarige Assange ’n selfmoordrisiko is. Assange was in die hof toe die uitspraak gelewer is en het sy voorkop afgevee toe die beslissing aangekondig is terwyl sy verloofde Stella Moris in trane uitgebars het.

Assange en sy regspan voer aan dat die uitgerekte saak polities gemotiveerd is. Hy bly in aanhouding, maar kan moontlik later Maandag ’n borgtogaansoek bring.

Assange staan op 18 aanklagte in die VSA tereg wat verband hou met WikiLeaks se vrystelling van 500 000 geheime dokumente waarin aspekte van militêre veldtogte in Afghanistan en Irak uiteengesit word. Indien Assange in Amerika skuldig bevind word, kan hy tot 175 tronkstraf ontvang.

Assange het ook ’n respiratoriese toestand wat hom kwesbaar maak vir Covid-19.

Nils Melzer, die Verenigde Nasies se spesiale rapporteur oor marteling, het vroeër ’n beroep op pres. Donald Trump gedoen om kwytskelding aan Assange toe te staan.

Foto: Daniel Leal-Olivas/AFP

Tydens die verhoor in Brittanje is gehoor dat Trump glo gesê het hy sal kwytskelding aan Assange toestaan as hy getuig dat Rusland tydens die verkiesingsveldtog in 2016 ’n kuberaanval op die rekenaarbedieners van die Demokratiese Nasionale Komitee uitgevoer het.

Amerikaanse owerhede beweer Assange het Chelsea Manning, voormalige militêre intelligensie-ontleder, gehelp om geheime dokumente te bekom voor dit uitgelek is.

Swede het in 2010 ’n lasbrief vir Assange se inhegtenisneming uitgereik rakende bewerings van seksuele aanranding waarna hy asiel in Ecuador se ambassade in Londen versoek het en van 2012 tot 2019 daar gebly het.

In April 2019 het Ecuador se president Lenin Moreno sy burgerskap herroep en die Britse polisie het Assange in hegtenis geneem.

Hy is in hegtenis geneem vir die oortreding van sy borgtogvoorwaardes, maar het in aanhouding gebly hangende die uitspraak oor die uitleweringsversoek.

Die aanklag van seksuele aanranding teen Assange is later laat vaar weens ’n gebrek aan bewyse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.