Hof moet oor terminaalsiek-baba se lewe beslis

Foto: Facebook.

Die ouers van ʼn 11 maande oue terminaalsiek-babatjie van Engeland het Maandag vir ʼn tweede keer in ʼn hooggeregshof verskyn om toestemming te verkry om hul kind na Amerika te neem waar hy alternatiewe behandeling kan kry wat moontlik sy lewe kan red.

Die jong Charlie Gard is kort ná sy geboorte met die uiters seldsame Encephalomyopathic mitochondrial DNA depletion-sindroom (MDDS) gediagnoseer. Dié sindroom beïnvloed weefsel in die spiere, lewer, of beide die spiere en brein, en veroorsaak as’t ware dat “foutiewe DNS” in die liggaam nie genoeg krag na die spiere en brein stuur om te beweeg of aksies uit te voer nie.

In Charlie se geval het die siekte sy hart, lewer én niere aangetas. Hy kan ook nie self asemhaal nie en is daarom aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Hy kan ook nie sy oë oopmaak of sy arms of bene beweeg nie.

Chris Gard en Connie Yates, Charlie se ouers, het die hospitaal waar hy gebore is vroeër vanjaar in die hooggeregshof gedaag nadat die dokters gesê het sy masjiene moet afgeskakel word omdat niks meer vir sy gesondheid gedoen kan word nie.

Die egpaar het in die hof aangevoer dat hulle alternatiewe behandeling in die VSA oorweeg wat moontlik sy lewe kan red. Die ouers het gesê die sogenaamde nukleosiedbehandeling, wat nog nie bewys is nie, kan die krag van die DNS moontlik verhoog, wat beteken dat sy toestand kan verbeter.

Die dokters het egter aangevoer dat daar geen bewyse is dat dié behandeling die breinskade wat hy reeds opgedoen het, kan verbeter of sy toestand oor die algemeen verbeter nie, en daarom het die hooggeregshof ten gunste van die hospitaal beslis.

Die ouers het nietemin onlangs ʼn petisie met 350 000 handtekeninge aan die hospitaal oorhandig wat om toestemming vra dat die ouers na die VSA mag reis vir dié behandeling. Hulle het ook al meer as R24 miljoen ingesamel om die behandeling te finansier.

Talle ondersteuners van die saak het buite die hof saamgedrom waar Yates gepraat het voor die verrigtinge begin het. “Hy is ons seun, hy is ons vlees en bloed. Ons voel dit is ons reg as ouers om te besluit om hom hierdie kans op lewe te gee. Daar is niks om te verloor nie; hy verdien ʼn kans,” het sy gesê.

Hoewel die hof reeds beslis het, is die saak terug na die hof verwys nadat twee internasionale gesondheidsorgfasiliteite die hospitaal gekontak het met “nuwe bewyse oor hul voorgestelde eksperimentele behandeling”.

Intussen het die Amerikaanse president, Donald Trump, en pous Franciskus ook die gesin se hoop op alternatiewe behandeling in die media ondersteun.

Yates het aan BBC Radio 4 gesê dié ingrypings het haar seun se lewe tot dusver gespaar, en ook wêreldwyd baie aandag vir die saak getrek.

“As ons klein Charlie Gard kan help, soos ons vriende van die VK en pous Franciskus voorgestel het, maak ons graag so,” het Trump op Twitter geskryf.

Die Vatikaan het ook gesê die pous volg die saak in die media en hoop vir ’n goeie uitkoms.

Geen beslissing is nog deur die hof gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vryheid ·

As dit jou kind is sal jy na die uithoeke van die aarde gaan om n lewe te red. Seen oor julle.

Lewe ·

Waar daar lewe is is daar hoop. Dit was nog altyd so en sal ook so wees vir die hede en die toekoms solank as wat daar lewe sal wees.

Bella ·

Al wat hy nodig het is DMSO (dimethyl sulfoxide) dis feite!!!

Chrissie ·

Its never over till God said it’s over!
Ek bid sommer vir julle en alle ander wat ook ly.

Ada ·

Hou aan veg vir julle kind!
Vergeet die hof!
Wonder wat sou die regter doen sou dit sy kind gewees het?

Borrie ·

Janee as dit nie jou kind is nie kan jy mos dood predik. Dokters moet ophou God speel. Hulle is net mense. Ek hoop die ou babatjie kry verligting van sy siekte en beterskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.