Hof moet sê of Charlie Gard tuis mag sterf

Charlie Gard en sy ouers, Chris Gard en Connie Yates (Foto: Gard-familie via AP)

Chris Gard en Connie Yates, die ouers van die ongeneeslike Charlie Gard van Engeland, het Woensdag vlugtig in ʼn Britse hooggeregshof verskyn om aan die hof te verduidelik hoekom hul 11 maande oue baba tuis moet sterf en nié in ʼn hospitaal soos deur mediese personeel aanbeveel is nie.

Die hof sal Donderdag weer byeenkom om ʼn dokter te ondervra wat ingestem het om na Charlie by sy ouerhuis om te sien.

Die hospitaalpersoneel het vroeër gesê Charlie sal die bes moontlike versorging by ʼn hospies in Brittanje kry – ʼn hospitaal en plek van veiligheid wat ook na terminale pasiënte omsien.

Katie Gollop, die hospitaal se prokureur, het die hof aangeraai om Charlie se oorplasing na die hospies goed te keur.

Die ouers het egter ʼn hofaansoek ingedien om die hof te vra of hulle hul kind eerder kan huis toe neem om vreedsaam by sy gesin te sterf. Die egpaar het gesê hulle sou baie minder tyd saam met hom kon deurbring indien hy na ʼn hospies gaan.

Charlie ly aan die uiters seldsame ensefalomiopatiese mitochondriale DNS-ledigingsindroom (MDDS) wat kort ná geboorte by hom gediagnoseer is. Dié sindroom beïnvloed weefsel in die spiere, lewer, of sowel die spiere as die brein, en veroorsaak as’t ware dat “foutiewe DNS” in die liggaam nie genoeg krag na die spiere en brein stuur om te kan beweeg of aksies uit te voer nie.

Volgens Chris Gard en Connie Yates, Charlie se ouers, het dié siekte sy hart, lewer én niere aangetas. Hy kan ook nie self asemhaal nie en is daarom aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Hy kan ook nie sy oë oopmaak of sy arms of bene beweeg nie.

Die Yates-egpaar was sedert begin vanjaar in ʼn ingewikkelde regsgeding gewikkel om alternatiewe behandeling vir Charlie aan te vra nadat die hospitaal aangeraai het dat hy ʼn vreedsame dood moet sterf.

Die egpaar se prokureur, Grant Armstrong, het Maandag aan die hooggeregshof in Engeland gesê volgens kundiges is daar nie meer kans om die seuntjie se lewe te red nie.

“Dit is te laat vir Charlie … Daar is geen kans dat behandeling meer sy lewe kan red nie. Dit gaan niks help om hom aan die asemhalingsmasjien gekoppel te hou nie,” het Armstrong gesê.

Lees alle vorige berigte oor Charlie Gard op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ai ·

Ek sal my kind vat en uit daardie hospitaal loop… DIS HULLE KIND niemand kan hulle keer nie…

madels ·

Ek stem saam! Ek is uiters geskok dat n hospitaal soveel outoriteit oor n kind het. Wie gee hulle die reg om te besluit waar die kind mag sterf? Nee dis nou heeltemaal vergesog!! As ek my kind wil by die huis laat sterf sal ek hom net eenvoudig huistoe vat. Genoeg is genoeg, die arme ouers het alreeds so erg pyn net om te weet hul kind gaan sterf, nou moet hulle nog met n hospitaal baklei… dit is nou net een te veel vir my!!

Nivea ·

O dus verskriklik hartseer mensdom. Dus baie erg vir die ouers. Gee hulle baba vir hulle.

Susan ·

Dit is die pragtigste ou babatjie, kan hy nie maar by sy mamma en pappa sy laaste tydjie deurbring nie?

Phillip Jessen ·

Vat hom loop uit en klim dan in n vliegtiug en vlieg VSA toe baie sterkte vir die Eng . vammielie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.