Hof sê finaal oor baba Charlie Gard

Charlie Gard (Foto: Facebook)

ʼn Britse hooggeregshof het vandeesweek beslis dat Charlie Gard, die 11 maande oue en terminaal siek baba van Engeland, na ʼn hospies in Brittanje oorgeplaas moet word om vreedsaam te sterf en nié by sy ouers se huis soos hulle aanvanklik versoek het nie.

Chris Gard en Connie Yates, Charlie se ouers, het vroeër vandeesweek die hof gevra om hulle toe te laat om hom huis toe te neem en tuis vir hom te sorg tot hy sterf. Die egpaar het aan die hof gesê ʼn dokter sal hul huis gereeld besoek en ook aan die hof terugvoer gee.

Regter Justice Francis het egter Woensdag gesê dat Charlie nie die nodige sorg gaan kry wat hy verg indien hy by sy ouerhuis versorg word nie. Francis het daarom beslis dat hy na ʼn hospies in Brittanje geneem word en kort ná sy aankoms by die hospies van die asemhalingsmasjiene afgehaal sal word.

Die regspan vir die egpaar het in die hof aangevoer dat hulle bereid is om hul aanvanklike plan om Charlie tuis te versorg, te laat vaar, maar dan wil hulle op hul eie tyd van hul seun afskeid neem voordat die masjiene afgeskakel word.

Die prokureurs het gesê verskeie dokters en verpleegsters het hul dienste aangebied, en dat die ouers self uit ʼn fonds vir die sorg sal betaal.

Francis het egter gesê dit sal nié in Charlie se beste belang wees om hom aan die lewe te hou nie, en dat hy na ʼn hospies oorgeplaas moet word om toegelaat te word om te sterf.

Volgens The Telegraph was die egpaar Woensdag albei in trane ná die uitspraak en het Connie buite die hof geskree: “Ek hoop julle is gelukkig met julself!”

Intussen het die Great Ormond Street-hospitaal, waar Charlie versorg is, in ʼn verklaring hul medelye aan die familie betuig.

“Ons is diep hartseer oor die verskille tussen Charlie se dokters en sy ouers, en dat dit so in die hof uitgerek moes word. Sy ouers het onverpoosd probeer om die sorg vir hom te beding wat hulle dink hy verdien, en dit is hulle reg. Al die personeel by Great Ormond staan elke oggend op om na siek kinders om te sien. Ons het alles in ons vermoë gedoen om aan hul wense te voldoen, maar ons moet doen wat die beste vir Charlie is. Ons simpatie is by die ouers.”

Charlie ly aan die uiters seldsame enkefalomiopatiese mitochondriale DNS-ledigingsindroom (MDDS) wat kort ná geboorte gediagnoseer is. Dié sindroom beïnvloed weefsel in die spiere, lewer, of sowel die spiere as die brein, en veroorsaak as’t ware dat “foutiewe DNS” in die liggaam nie genoeg krag na die spiere en brein stuur om te kan beweeg of aksies uit te voer nie.

Volgens Charlie se ouers het dié siekte sy hart, lewer én niere aangetas. Hy kan ook nie self asemhaal nie en is daarom aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Hy kan ook nie sy oë oopmaak of sy arms of bene beweeg nie.

Gard en Yates was sedert begin vanjaar in ʼn ingewikkelde regsgeding gewikkel om alternatiewe behandeling vir Charlie aan te vra nadat die hospitaal aangeraai het dat hy ʼn vreedsame dood moet sterf.

Lees alle vorige berigte oor Charlie Gard op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nico ·

Sterkte aan die ouers al wat ons nou kan doen is om nog steeds te bid en JESUS te vra hom hom gesond te maak wat ek nou net gedoen het die besluit het hy reeds gedoen

Linette ·

@Nico, die ou seuntjie KAN nie gesond gemaak word nie. Hy ly net. Ek is bly die ouers het nou besluit om hom te laat gaan. Tuis, dink ek, sou hulle hom nog op allerlei maniere aan die lewe probeer hou het en dalk selfs na Amerika gegaan het in die hoop om daar spesialis-behandeling te kry, soos dit vroeër berig is.

Daar is groot waarheid in die spreekwoord wat sê: “God, gee my die krag om die dinge wat ek nie kan verander nie, te aanvaar, moed om die dinge wat ek kan verander, te verander en die wysheid om die verskil tussen die twee te besef”.

Charlie het genoeg gely, laat hom gaan rus. Totsiens, Charlie-seun! Rus veilig by ons Here Jesus se voete.

AL ·

Ek dink dis beter as hy in die hospitaal sterf, want mens weet nie hoeveel emosionele skade die ouers sou opdoen indien hy sterf in hul sorg. Nietemin dit bly uiters hartverskeurend.
Ten minste sal hy ñ gesonde liggaam hê by Jesus in die hemel.

Alida ·

Sjoe…baie sterkte. Ek ken dit. Al wat jou troos is dat hy in n beter plek gaan wees as ons. Hoe ouer die baba word hoe moeiliker.

felicia ·

sterkte aan die mamma en pappa en die res van die gesin. ek wil graag net weet wie is die hof om te besluit wie lewe en wie nie en wie moet waar gaan sterf. ek is in trane vir die mamma se part. hulle het so erg baklei vir hulle seuntjie. die hof kan die een laaste wens van die ouers gee sodat kleitjie by die huis kan gaan en sy laaste paar dae op aarde gemaklik kan wees.

Ronel ·

Ek stem saam en ek sou tien teen een ook soos die Mamma voor die hof geskreeu het. Wie het die hof God gemaak?

Liedie ·

Baie sterkte! Bid dat God julle vertroosting gee en toe vou in Sy liefde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.