Hof sê nee vir handelsmerkreg op Kit Kat

Kit Kat sjokolade.

Enige Suid-Afrikaanse sjokolade-liefhebber sal die bekende viervingerstafie-sjokolade onmiddellik as ʼn Kit Kat herken, maar Nestlé het pas bloedneus in die hof gekry in sy poging om handelsmerkreg vir dié vorm reg oor die Europese Unie (EU) te bekom.

Nestlé is al jare lank in ʼn regstryd gewikkel met sy teenstaander, Cadbury Schweppes (wat nou deel is van die Mondelez-groep), oor dié kenmerkende vorm van die sjokolade. Nestlé het in 2002 aansoek gedoen om die handelsmerkreg vir die viervingerstafie-vorm te bekom en dit is in 2006 aan die maatskappy toegestaan.

Dié besluit het teenstaanders daarvan weerhou om namaaksels van Kit Kat te vervaardig en enige pogings om die vorm na te maak is gestraf, insluitend die Noorweegse Kvikk Lunsj-sjokolade, ʼn Kit Kat-dubbelganger.

Cadbury Schweppes het hom egter later tot die hof gewend om dié toekenning van ʼn handelsmerkreg op die sjokoladevorm te laat omkeer.

Die Noorweegse Kvikk Lunsj-sjokolade.

Fortune.com berig die hof het in 2016 beslis dat Nestlé nie bewys het dat verbruikers reg oor die EU die vorm van Kit Kat as kenmerkend sien nie. Spesifiek het die EU se kantoor vir intellektuele eiendom (EUIPO), wat die handelsmerkreg toegestaan het, nie bevind dat mense in België, Ierland, Griekeland en Portugal die vorm van die sjokolade as dié van Kit Kat herken nie.

Volgens die berig het die geregshof van die EU Nestlé en die EUIPO se appèlaansoek van die hand gewys en beslis die algemene hof het reg opgetree deur die handelsmerkbesluit nietig te laat verklaar. Dit beteken die EUIPO moet nou Nestlé se handelsmerkaansoek heroorweeg.

Nestlé het in ʼn verklaring gesê die maatskappy glo die vorm van hul Kit Kat-sjokolade moet beskerm word en daarom sal hulle die saak nou na die EU se appèlraad verwys. “Ons dink die getuienis bewys dat die bekende vorm van ons ikoniese viervinger Kit Kat kenmerkend genoeg is om geregistreer te word as ʼn EU-handelsmerk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dassen ·

So gaan ‘n reuse globaal dominerende pizzamaatskappy nou alleenregaansoek doen om ronde pizzas te vervaardig en ander klein pizzarestaurante uit die mark druk? Laat groot globale reuse val en ondersteun eerder die kleiner plaaslike besighede.

Jacobus ·

1) Wie is die pizza maatskappy , en
2) Hulle gaan nie slaag nie, want ronde pizzas is reeds ‘n kenmerk van die bestaande pizza vorm so ook driehoek en vierkant.
3) Die pizza “cone” kan dalk slaag maar geen ander vorm,
4) Die Napolitaanse Italianers gaan die saak wen want as ek reg onthou, het hulle pizzas uitgevind asook die vorms.

Jo ·

Dassen is sarkasties en beklemtoon die wyse waarop groot maatskappye plaaslike mense se besighede plat probeer vee. Kyk na rooibos handelsnaam en verskeie medisinale plante.

koos1 ·

En wie het besluit dat ‘n ronde pizza in ‘n vierkantige boks moet kom??????

Coba ·

Ek eet Kit-Kat al vir jare. Nestle dra die Handelsmerk al vir jate lank en so ook Kit-Kat chunk. Hoekom nie net Nestle die reg gee nie. Dis besirk

Koos ·

Kit Kit is nie net aan Suid-Afrikaners bekend nie, mens kry dit vrylik in bv. Brittanje. En dis lankal nie meer net in viervingerblokkies verkrygbaar nie MM. Julle vergeet dat daar oorsee heelwat meer produkte en kompetisie is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.