Hof sê oor Texas-ma se teregstelling

Melissa Lucio saam met wetgewers. (Foto: Jeff Leach/AFP)

ʼn Hof in die Amerikaanse deelstaat Texas het Maandag Melissa Lucio se doodsvonnis uitgestel, totdat ʼn laer hof nuwe bewyse in die saak kan oorweeg.

Dié ma van 14 sou Woensdag tereggestel word vir die moord op haar tweejarige dogter byna 15 jaar gelede.

Lucio, wat deur ʼn dodelike inspuiting tereggestel sou word, het haar dankbaarheid oor die besluit uitgespreek.

“Ek is dankbaar dat die hof my die kans gebied het om te lewe en my onskuld te bewys,” sê sy. “Mariah is vandag en altyd in my hart.”

Mariah is in 2007 bewusteloos by haar gesin se huis gevind. Sy het nie asemgehaal nie en is later in die hospitaal dood verklaar. Die kleuter se liggaam was oortrek met bloukolle en Lucio het destyds aangevoer dat sy onvoorsien van die trappe af geval het.

Die polisie het egter nie dié verduideliking geglo nie en ná Lucio, wat swanger was met ʼn tweeling, vyf uur lank ondervra is, het sy skuld beken. Haar regsverteenwoordigers het egter aangevoer dat hierdie bekentenis deur die polisie afgedwing is.

Haar saak is deur die Innocence Project, wat veg vir diegene wat verkeerdelik veroordeel is, verdedig en die werklikheidster Kim Kardashian het selfs Greg Abbott, goewerneur van Texas, versoek om genade aan Lucio te verleen.

Lucio se verdediging het tydens haar verhoor gesê dat Mariah ʼn fisieke gestremdheid gehad het wat haar wankelrig laat loop het. Dit kon dus die val verklaar.

Die verdediging het ook aangevoer dat die kneusplekke deur ʼn bloedsirkulasieversteuring veroorsaak kon word.

“Melissa is geregtig op ʼn nuwe, regverdige verhoor,” het Lucio se prokureur, Tivon Schardl, in ʼn verklaring gesê.

Tot op hede het nie een van Lucio se 14 kinders haar daarvan beskuldig dat sy gewelddadig met hulle was nie.

Die dokumentêr The State of Texas vs. Melissa is in 2020 bekendgestel en het wydverspreide belangstelling in die saak ontlok. Duisende mense het ʼn petisie onderteken in ʼn poging om Lucio in die saak by te staan.

Saam met die petisie en etlike twiets oor die saak het Lucio ook ondersteuning van sowat 80 Texas-wetgewers – onder wie Republikeine wat tradisioneel verdedigers van die doodstraf is – gekry wat ook geëis het dat owerhede die teregstelling staak.

Lucio sou die eerste Latyns‑Amerikaner wees om in Texas tereggestel te word. Hierdie deelstaat het die meeste mense in die 21ste eeu en die meeste vroue tereggestel.

“Dit sou ʼn historiese onreg wees vir haar om tereggestel te word vir ʼn misdaad wat sy nie gepleeg het nie – ʼn misdaad wat in werklikheid nooit gebeur het nie,” het Burke Butler, uitvoerende direkteur van die niewinsgewende organisasie Texas Defender Service, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kirst

Ek spreek my nie uit oor haar onskuld aldan nie, laat dit maar vir die hof en die jurie in Texas. Die probleem met die doodstraf word egter hier uitgelig. Onskuldige mense kan tereggestel word. En soos ons regstelsel werk, hang die gehalte van jou verteenwoordiging en die uitkoms van die proses af van hoe dik jou beursie is. Kyk maar na Zuma, hy moes nooit president geword het nie en moes lankal agter tralies gewees het, maar ons (belastingbetalers) en die Gupta’s het vir hom eersteklas verteenwoordiging geborg wat op slinkse maniere hom uit die tronk gaan hou tot… Lees meer »

Gert

14 kinders…seriously mamma!

Swerwer

Geen veoordeling nie………………………………….. maar 14 kinders………………………. werklik, is dit moontlik.

Manie

Laat geregtigheid seevier.

Oe la la

Al het hierdie mamma nie direk haar dood gemaak nie… glo ek sy het tog n deel daarin gehad.. verwaarloos.. sy was verslaaf aan dwelms, die welsyn was n paar keer ook by die kinders..