Hofgeding oor Kenia se verkiesingsuitslae begin

Kenia se aangewese president William Ruto na ‘n saamtrek verlede week. Die verkiesingsuitslae word nou in die hof betwis. (Foto: Patrick Meinhardt/AFP)

Kenia se verslane presidentskandidaat Raila Odinga het ʼn aanlyn petisie in die land se hoogste hof van stapel gestuur waarmee hy die uitslag van die verkiesing op 9 Augustus – wat ʼn oorwinning aan sy teenstander William Ruto besorg het – betwis.

Odinga, ʼn veteraanopposisieleier wat met die steun van die regerende party aan die verkiesing deelgeneem het, het die uitslag van die verkiesing verwerp en dit as “belaglik” bestempel nadat hy net-net teen Ruto verloor het. Ruto het sowat 230 000 stemme, oftewel minder as twee persent meer van die stemme, op hom verenig.

“Dit [die petisie] is reeds aan hulle gestuur en hulle sal dit binnekort sien,” sê Daniel Maanzo, ʼn lid van die 77-jarige Odinga se regspan.

“Ons hoop dat ons ʼn goeie saak gestel het en sal seëvier.”

Paul Mwangi, wat Odinga ook verteenwoordig, sê ʼn harde kopie van die petisie sal voor die hooggeregshof se 14:00-spertyd ingedien word.

Hoewel die verkiesingsdag vreedsaam verloop het, het die aankondiging van die uitslae ʼn week gelede tot woedende protesoptogte in sommige Odinga-vestings gelei. Daar is vrese dat ʼn uitgerekte hofstryd kan lei tot geweld in ʼn land wat reeds ʼn geskiedenis van onrus ná verkiesings het.

Regters het nou 14 dae om ʼn beslissing te lewer. Indien hulle beslis dat die verkiesing nietig verklaar word, moet ʼn nuwe verkiesing binne 60 dae gehou word.

Sedert 2002 het elke presidentsverkiesing in Kenia tot ʼn dispuut gelei. Vanjaar se uitslag het ook ʼn skeur in die onafhanklike verkiesing- en grenskommissie (IEBC) veroorsaak. Die kommissie behartig die verkiesing.

Odinga, wat vir die vyfde keer as president gestaan het, het ook in Augustus 2017 die hooggeregshof genader toe pres. Uhuru Kenyatta as wenner in die presidentstryd aangewys is.

Vir die eerste keer in Afrika se geskiedenis is die verkiesing nietig verklaar en is opdrag gegee dat dit weer gedoen moet word. Odinga het die nuwe vierkiesing geboikot en tientalle mense is dood toe die polisie op betogers toegeslaan het.

Odinga het sedertdien die strydbyl met Kenyatta begrawe en het die president se steun vir sy kandidaatskap gehad. Hy het verlede week gesê syfers van die IEBC is “nietig en ongeldig en moet deur ʼn hof ter syde gestel word”.

Die IEBC is onder kwaai druk om ʼn regverdige verkiesing te verseker nadat hy onder skerp kritiek deurgeloop het oor sy hantering van die 2017-verkiesing.

In ʼn verrassende wending, kort nadat die uitslae aangekondig is, het vier van die IEBC se sewe kommissarisse gesê die syfers klop nie en het hulle kommissievoorsitter, Wafula Chebukati, van onderduimsheid beskuldig.

Chebukati het die bewerings verwerp en volgehou dat hy sy werk ten spyte van “intimidasie en teistering” na behore gedoen het.

Regskenners is verdeel oor die kwessie of Chebukati die kommissarisse se steun nodig het om die uitslae bekend te maak. Grondwetkenner Charles Kanjama het aan AFP gesê daar is dubbelsinnigheid oor die kwessie.

Odinga het vantevore aangevoer hy is in 2007, 2013 en 2017 uit ʼn verkiesingsoorwinning verneuk en die nadraai van die jongste verkiesing word fyn dopgehou as ʼn toets van demokratiese volwassenheid in dié Oos-Afrika-magsbasis.

In aanloop tot die verkiesing het albei voorlopers onderneem om enige dispute in die howe uit te klaar, eerder as in die strate.

Sedert die uitslae bekend gemaak is, het Odinga sy ondersteuners geloof vir hul kalmte, terwyl Ruto ʼn versoenende trant ingeslaan het en onderneem het “saam met alle leiers te werk”.

Kenia se ergste verkiesingsgeweld het in 2007 plaasgevind toe meer as 1 100 mense in polities gedrewe voorvalle van geweld met teenstrydige faksies dood is.

Indien die howe die jongste verkiesingsuitslag bekragtig, sal Ruto Kenia se vyfde president sedert onafhanklikheidswording in 1963 word. Hy neem die leisels oor van ʼn land wat steier onder stygende inflasie, ʼn hoë werkloosheidsyfers en ʼn verlammende droogte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Oosieoos ·

Hulle kan maar netnie a verloor aanvaar nie. Afrika sukkel met demokrasie

Jr ·

African voting
Hou elections.
Verklaar onwettig deur een wat verloor
Hou weer eleksies of gaan hof toe tot hulle wen
As jy nie wen, begin n siviele oorlog.
African democracy

Jack ·

Alle diktators klou vas aan hulle demokratiese reg en moet verwyder word deur die hof. Niks demokraties ontrent dit nie. Onthou bietjie ou mugabe hoelank het hy in die jampot gesit? Till death do us part ne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.