Hofsake hoop op ná stormloop, sterftes by konsert

Blomme is neergelê voor die ingang van die musiekfees waar agt mense tydens ‘n stormloop dood is. (Foto: Alex Bierens de Haan/ Getty Images via AFP)

Minstens twee mense, onder wie ’n negejarige seun, was teen Woensdag nog in ’n kritieke toestand in die hospitaal nadat hulle Vrydagaand ernstige beserings by die kletsrymer Travis Scott se konsert in Houston, Texas, opgedoen het.

Agt mense is tydens ’n stormloop by dié konsert dood.

Intussen hoop hofsake teen Scott, die kletsrymer Drake, die organiseerders en ander belanghebbendes op.

Ben Crump, vooraanstaande burgerregte-advokaat, tree nou ook namens Ezra Blount (9) se gesin op en het nóg ʼn saak teen Scott, die konsertorganiseerders en die venuebestuur aangekondig.

Ezra is tans in koma in die hospitaal.

“Hierdie seuntjie veg tans om sy lewe,” het Crump Dinsdag in ’n verklaring gesê.

“Konserte en musiekfeeste soos hierdie is veronderstel om ’n veilige plek vir mense van alle ouderdomme te wees om musiek in ’n beheerde omgewing te geniet. Niks hiervan was waar oor die Astroworld-fees nie.”

Crump het vroeër reeds aangekondig dat hy die 21-jarige konsertganger Noah Gutierrez in aanklagte teen Scott en die organiseerders verteenwoordig.

Minstens 60 regsgedinge was teen Donderdag aangekondig – waarvan die meeste teen Scott en Drake.

Live Nation, ʼn groot nasionale geleentheidsorganiseerder en die organiseerder van dié konsert, Scoremore, ʼn Texas-konsertgroep, en ASM Global, ʼn internasionale venue-groep, is onder dié wat ook deur aanklagte in die gesig gestaar word.

Min hoop vir 22-jarige konsertganger

 Intussen lyk dit of daar min hoop is dat ʼn 22-jarige student wat die konsert saam met familielede bygewoon het, van haar beserings gaan herstel.

Sy is tans in ʼn koma en aan ʼn ventilator gekoppel nadat sy geruime tyd sonder suurstof weens haar beserings by die konsert was.

Haar pa, Sunny Shahani, het aan internasionale media gesê haar kanse op oorlewing is “basies nul”.

Media het vroeër berig dat nagenoeg 50 000 konsertgangers Vrydagaand byeen gekom het vir Scott se optrede toe gretige aanhangers van agter af vorentoe na die verhoog gedruk en chaos veroorsaak het.

Agt mense, tussen die ouderdomme van 14 en 27 jaar, is tydens die konsert dood, terwyl 25 mense na die hospitaal geneem is vir ernstige beserings. ʼn Verdere 300 mense is vir ligte besering op die toneel behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ES ·

Ek loof hulle vir hul dapperheid om die organiseerders verantwoordelik te hou, maar tog wonder ek – hoe beheer ‘n handjievol personeel, of selfs tientalle personeel, ‘n stormloop van duisende mense?

Andrew ·

Daar is “3rd party liability” versekering vir die soort van goed en moontlik n vrywaaring op die agterkant van die kaartjie. Die sake gaan oor dat die twee die skare aangehits het met hul musiek en optrede so gaan interessant wees. Maar met hulle tiepe musiek sal die hansworse by die sikrus opdaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.