Hokaai met daai (gesteelde) Paaseiers

Die besending sjokolade-eiers was minstens veilig. (Argieffoto)

ʼn Britse boef wat met ʼn reusebesending Paaseiers die hasepad probeer kies het, is aangekeer met die sowat 200 000 Cadbury Crème Eggs wat hy gebuit het.

Joby Pool is die afgelope naweek vasgetrap nadat polisiebeamptes hom op die M42-hoofweg by ʼn padblokkade voorgekeer het – omring deur ʼn berg sjokolade-eiers.

Pool het reeds skuldig gepleit aan onder meer diefstal nadat die staat aangevoer het die diefstal is nie op die ingewing van die oomblik gepleeg nie en dat dit aansienlike beplanning geverg het. Pool het ʼn trekker gebruik om die vrag sjokolade weg te sleep en sou ook voor die tyd moes geweet het waar om so ʼn groot besending te vind.

Volgens die polisie het Pool ʼn metaalsnyer gebruik om deur die hekke van die nywerheidsgebou in Stafford Park in Telford, in die weste van Engeland, in te breek van waar hy die paaseiers en ander soorte sjokolade gesteel het, het BBC berig.

Sy plan het egter in die hek geduik toe die polisie hom op die hoofweg ingehaal het.

Die besending sjokolade was ongeskonde.

Pool is in 2019 aan soortgelyke oortredings skuldig bevind en bly in aanhouding tot hy in Maart gevonnis word. Sy regsverteenwoordiger sê Pool besef al te goed dat ʼn aansienlike vonnis op hom wag.

“Daar was egter geen gepeuter met die voedselprodukte wat gesteel is nie – en dit sal in ʼn toestand wees om terug te gaan op die rakke,” het John McMillan aan die hof gesê.

Met die sagte wit-en-geel fondantbinnekant, is Cadbury Crème Eggs ʼn groot gunsteling onder Britte.

Die West Marcia-polisie het in ʼn string humoristiese twiets ná die voorval gesê die boef, wat hom as die Paashaas probeer voordoen het, is aangekeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Truman Burbank ·

IS dit nou die paas weergawe van “the gringe”?

bolletjie blom ·

En so sien die paashaas sy stert sonder ‘n spieël.

Samuel ·

In Suid-Afrika sou die paaseiers nie terug op die winkelrakke beland het nie , maar in die kaders se sakke.

groenboer ·

So mal soos die spreeekwoordelike haas – ‘n paashaas, in hierdie geval.

Miskruier ·

Met die prys van gewone eiers neem ek die man nie kwalik nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.