Hollywood: Babanuus vir ‘Lizzie McGuire’; Kim Kardashian se eersteling nou ʼn kletsrymer

Hilary Duff is weer verwagtend. (Foto: Hilary Duff/Instagram)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Babanuus vir ‘Lizzie McGuire’

Hilary Duff, bekend vir haar rol as Lizzie McGuire, sal binnekort ʼn vierde pienkvoet saam met haar man, Matthew Koma, verwelkom.

Dié 36-jarige aktrise is reeds ma van ʼn 11-jarige seun, Luca, wat sy saam met haar eksman, Mike Comrie, gehad het, en twee dogters saam met Matthew, die tweejarige Mae en die vierjarige Banks.

Sy het die babanuus in ʼn kostelike Kerskaartjie op Instagram gedeel. “Verrassing, verrassing,” lui die byskrif by die plasing waar sy duidelik ʼn bababoep vashou.

“Nog net agt om die pak te voltooi,” het Alyson Stoner, wat saam met Hilary in die 2003-rolprent, Cheaper by the Dozen, gespeel het, se gelukwensing op die plasing gelui.

Hilary het reeds as kind in die rolprent, Casper meets Wendy, gespeel. Haar bekendheid het egter ʼn paar jaar later vlamgevat toe sy as 13-jarige ʼn hoofrol in Disney se trefferreeks, Lizzie McGuire, losgeslaan het. Sy het later in flieks soos A Cinderella Story, Cadet Kelly en Material Girls gespeel.

Kim Kardashian se eersteling nou ʼn kletsrymer

Kanye West kan opsyskuif, daar is ʼn nuwe kletsrymer in die dorp: sy 10-jarige dogter, North West.

Kanye en Kim Kardashian se eerste spruit het haar kletsrymdebuut as Miss Westie op haar pa se nuwe album, Vultures, gemaak. Dié album is saam met die R&B-sanger, Ty Dolla $ign, vervaardig en het vroeër vandeesweek die rakke getref.

Kim Kardashian en haar dogter, North West. (Foto: Kim Kardashian/Instagram)

“I love it here, we’re gonna take over another year. It’s you’re bestie, Miss Westie,” lui North se woorde in die liedjie, “You Don’t Want (North Interlude)”.

Zac Efron vereer met Hollywood-ster

Die High School Musical-akteur, Zac Efron, het sy ster op die Hollywood Walk of Fame aan sy voormalige medeakteur, wyle Matthew Perry, opgedra.

Dié 36-jarige akteur is bekend vir rolprente soos Baywatch, The Greatest Showman, The Lucky One, Bad Neighbours en Extremely Wicked, Shockingly Evil and Vile. Hy het ook in 2009 die jonger weergawe van Matthew Perry se karakter in die komedie, 17 Again, gespeel.

Zac Efron is met ‘n ster op die Hollywood Walk of Fame vereer. (Foto: Zac Efron/Instagram)

“Dit [17 Again] het my gedruk tot die volgende hoofstuk van my loopbaan, en daarvoor sê ek vir jou dankie, Matthew. Ek dink baie aan jou vandag,” het Zac se aanvaardingstoespraak by die sterseremonie vroeër vandeesweek in Hollywood gelui.

Hy het ook die vervaardigers van die High School Musical-rolprente, waarvoor Zac aanvanklik bekendheid verwerf het, bedank.

“Ek dink steeds aan die flieks daagliks. Ek sing ook steeds die liedjies in die stort.”

‘Here Comes Honey Boo Boo’-sussie sterf

Anna “Chickadee” Cardwell, dogter van die werklikheidstelevisiester, Mama June Shannon, het op 9 Desember haar stryd met kanker verloor. Sy was 29 jaar oud.

“Met ʼn hart wat breek, kondig ons aan dat Anna nie meer met ons is nie,” het June in ʼn onlangse Instagram-plasing geskryf.

“Sy het rustig in haar slaap gesterf. Sy het vir 10 maande een hengse stryd gevoer, en het gesterf met haar familie rondom haar. Ons is lief vir julle, bid asseblief nog steeds vir ons gesin.”

Anna was saam met haar sussie, Alana “Honey Boo” Thompson, in die TLC-werklikheidsreeks, Here Comes Honey Boo, wat van 2012 tot 2014 op die kassie was, te sien. Sy is in Januarie met nierkanker gediagnoseer.

Dít is wanneer ‘Bridgerton’ weer die kassie tref

Diegene wat op hete kole sit en wag vir die derde seisoen van die Netflix- en Shondaland-reeks, Bridgerton, kan vir ʼn slag weer asemhaal.

Dit is vroeër vandeesweek bekendgemaak dat dié langverwagte reeks uiteindelik in Mei en Junie vanjaar die kassie gaan tref. Die eerste helfte van die reeks sal vanaf 16 Mei op Netflix beskikbaar wees, terwyl die tweede helfte eers op 13 Junie uitgereik sal word.

Dié seisoen word die liefdesverhaal tussen Penelope Featherington (vertolk deur Nicola Coughlan) en Colin Bridgerton (vertolk deur Luke Newton) verken.

Kyk na ʼn lusmakertjie van die seisoen hier:

Bykomende bronne: E! News, BBC News, CBS News, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.